top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Jou woorde is boumateriaal, nie aanvalswapens nie

deur Stephan Joubert Messe steek seer en maak dood; woorde doen dieselfde. Spreuke 18:12 sê nie verniet dat onnadenkende woorde soos messteke is nie. Spreuke 30:14 sê boonop dat sommige mense se tande soos swaarde is en hulle kake soos messe — lewensgevaarlike praat–apparaat dus! Hoeveel keer het jy nie al deurgeloop onder sulke skerpgemaakte tonge nie. Soms gebeur dit in jou gesig en soms gebeur dit agter jou rug, maar feit is, mense praat mekaar aan flarde. Goor woorde vernietig verhoudings; dit begin oorloë; dit breek huwelike op; dit skeur kerke. Hou op hiermee. Stop dit. Deurbreek jou kop se geneigdheid om ander agteraf of van voor af by te kom met jou tong. Dit raak in ’n oogwink ’n slegte gewoonte. Doop jou tong aanhoudend in die Here se genade. Bedink goeie dinge en sê dit vir ander en oor ander. Gebruik jou woorde as boumateriaal, nie as aanvalswapens nie. “The limits of my language means the limits of my world,” het die bekende denker, Ludwig Wittgenstein een keer gesê. Ware woorde. As die woorde op jou lippe destruktief, afbrekend en negatief is, is jou wêreld baie klein. O ja, en ook lewensgevaarlik. Dan maak jou woorde jou van binne af siek, so ook vir elkeen binne trefafstand hiervan. Jou tong moet tot bekering kom — daagliks en aanhoudend! Jou woorde moet aanhoudend deurdrenk wees met die sagtheid en deernis van die Heilige Gees. Jou woorde moet in pas kom met die volgende tekste in Spreuke (Die Boodskap): “’n Gelowige se woorde is ’n onuitputlike bron van inspirasie” (10:11). “Wanneer ’n wyse praat, kan jy hoor hy ken die lewe” (10:13). “’n Gelowige se wyse woorde is soos saad wat gesaai word. Mettertyd dra dit baie vrug in ander se lewe” (12:14). “’n Gelowige praat altyd die waarheid. ’n Mens kan op sy woord staatmaak” (12:17). “’n Slim mens is beskeie oor al sy kennis” (12:23). “’n Gelowige se woorde kan baie vir ander mense beteken. Hy trek self ook voordeel daaruit. Hy wat sy mond kan hou, bly uit die moeilikheid uit” (13:2–3).

bottom of page