Water én WATER, asseblief
deur Stephan Joubert ’n Gemiddele persoon benodig daagliks sowat 5 liter drinkwater, 20 liter water vir sanitasie, 15 liter vir badwater en 10 liter water vir kosvoorbereiding. Tog moet massas mense in Afrika tans regkom met minder as 10 liter water per dag. G’n wonder nie dat meer as 25,000 mense daagliks sterf as gevolg van waterbesoedeling. Ongetwyfeld is dit een van ons uitdagings as Christene om in 2015 saam met Jesus se lewende water ook skoon water by minstens een ‘waterbehoewende’ gesin uit te kry. Water is lewe. Ek bedoel daardie lewende water wat Jesus verniet aan dorstiges uitdeel, sowel as die drinkwater wat ons elkeen benodig om van te leef. Beide is lewegewend. Nie een van ons wat onsself ’n Christen noem durf beide net vir onsself hou nie. Dan het ons in opgaardamme verander. Let op, opgaardamme se water is gewoonlik groen en dit ruik boonop sleg ook... presies soos sommige geestelike wateropgaarders! Ons is bedoel om kanale van water te wees. Ons moet vloei! Soos wat Jesus in Johannes 7:38-40 beloof het, sal strome van lewende water gedurig uit ons vloei as ons Hom volg. Navolgers van Jesus leef immers in die stroom van hemelse genade.