top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Omkeerbare piekniekkombers/gebedsmatjie

deur Alet Gardner Ons woon en werk nou al sestien jaar in Engeland en het geleer dat piekniek ’n baie belangrike deel van die Britse kultuur is. Wanneer die son skyn, gryp jy jou piekniekkombers en piekniekmandjie en vat die pad — as jou motor ’n afslaandak het, soveel te beter. So is my geestelike hoogtepunte ook dikwels die “sonskyndae” wanneer alles mooi en lekker is en die mense om my (én ekself) in ’n piekniekbui is. Dan geniet ek die gawes en geleenthede en hulpbronne waarmee die Here my vertrou saam met vriendelike, ontspanne familie of vriende. Daar kom egter ook donkerder, reënerige dae, wanneer ek bietjie eenkant toe moet gaan na ’n stil plek om asem te skep. Soos Jesus gemaak het is dit veral na groot output nodig om alleen my gebedsmatjie oop te gooi om te bid. Hier kan ek aandag gee aan my piekniekkombers, seker maak dat dit skoon is — dat Jesus al die klitse uithaal, die blertse “tamatiesous” en “koeksisterstroop” wat oorgebly het van tye van input en van lekker kuier. Tydens die maande waarin ons die trauma van die verlies van ons hoofbron van inkomste verwerk het, het ek nuwe perspektief moes kry op onselfsugtigheid, begrip en geduld! Ons tweetjies vind ons ritme in die nuwe seisoen van heeldag saam-wees — en toe kom die poedingkrisis! Ons is genooi om by vreemde mense te gaan eet omdat hulle SA familie (vriende van ons) daar kuier en ek bied aan om ’n poeding saam te neem. En in die uur wat ek myself toegelaat het om die sjokoladepoeding te bak voordat ek gou ’n vriendin in die hospitaal gaan besoek en ons dan betyds kan wegkom vir die kuier, stel Brink ewe onskuldig voor: “Ag, maak daardie lekker appeltert van jou — almal is altyd mal daaroor.” Eerder as om te stry, probeer ek my man akkommodeer en begin skarrel — net om te ontdek dat ek nie al die bestanddele daarvoor het nie. Terwyl Brink rondry om te soek na die bestanddele om sy gunsteling appeltert te maak, wen ek myself al hoe meer op oor ek nie die poeding betyds gebak gaan kry voordat ek moet hospitaal toe ry en ons moet uitgaan nie. Te midde van gedagtes soos “Hoekom sê ek nie sommer uit die staanspoor ek gaan maak wat ek kan met die bestanddele tot my beskikking EN betyds klaar wees, nie” en “Hoe durf hy dit aan my doen?” kom herinner die Gees van God my saggies aan 2 Timoteus 1:7. Dis toe net hier waar ek vinnig die piekniekkombers moes omdop en dit ’n gebedsmat maak en ek myself hardop reghelp: “God has given me a spirit of power and of love and a calm and well-balanced mind and discipline and self-control” (Amplified Bible) Die resultaat: steeds geen bestanddele vir ’n appeltert nie, sjokoladepoeding betyds klaar, hospitaalbesoek ingepas, net ’n halfuur laat by ons gasvrou opgedaag EN ’n heerlik geseënde piekniekkombers-aand!

bottom of page