So klink genoeg
deur Stephan Joubert Arnold Schwarzenegger, die gewese goewerneur van Kalifornië en hardebaard akteur, het ’n paar jare gelede iets kwytgeraak wat vir my veel meer verstommend is as al daardie “groot” uitdrukkings waarvoor hy bekend is soos: “I’ll be back,” of sy immergroen: “Hasta la vista, baby!” Ek praat van ’n opmerking toe hy mense wou oortuig dat nog ’n ekstra hoop geld hulle nie gelukkiger gaan maak nie: “I now have $50 million, but I am just as happy as when I had $48 million.” Absurd! Maar in ’n ewe absurde wêreld, waar die spandering op luukse artikels vier maal hoër is as spandering op noodsaaklikhede, moet sulke uitsprake ons nie verbaas nie. Hoe kry ons die grens tussen “genoeg” en “nog meer” in plek solank as wat ons net in geldterme hieroor dink? Wanneer vat ons God regtig op sy woord dat Hy ons Hemelse Vader is wat elke dag vir ons alles gee wat ons nodig het? Die Here is ons herder steeds hier in 2015. En Hy voorsien elke dag in ons deurmekaar wêreld vandag se porsie kos en klere. Genoeg is daarom om te weet, te bely en te beleef: “Die Here is my herder.”