top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Waarheid word waar binne verhoudings

deur Stephan Joubert Christus is die waarheid. Hyself sê so in Johannes 14:6. Sy waarheid is gelyk aan ewige, ware lewe. Maar Jesus se waarheid gebeur altyd in verhoudings. Party gelowiges mis hierdie lewensbelangrike punt. Sonder om eers goeie verhoudings in plek te stel, betree hulle mense se spasies op onsensitiewe maniere. Ongenooid neem hulle partykeer ander se webblaaie oor met veroordelende opmerkings. Of hulle onderbreek Facebook gesprekke met eensydige "fire and brimstone" preke wat niks met die tema te doen het nie. Ongevraagd vermaan hulle hul kinders se vriende wat nie genoeg kerk toe gaan nie, en vat hulle kollegas by die werk tydig en ontydig (= liefdeloos) aan oor hulle gedrag. Waag jy dit om vir sulke gelowiges te sê hulle moet meer taktvol wees, skryf hulle jou daar en dan af as ’n “wêreldse” Christen. Wys jy hulle op die Nuwe Testament se oproepe dat ons, so ver dit van onsself afhang, nie aanstoot moet gee nie en in vrede met alle mense moet saamleef, dan sê hulle vir jou jy het nie die moed om “op te staan” vir die Here nie. Jesus roep ons om sy getuies te wees. Hy stuur ons met dieselfde gesag en boodskap na die wêreld toe as waarmee sy Vader Hom na ons toe gestuur het. Maar Hy waarsku ons in dieselfde asem om versigtig te wees soos die slange en opreg soos duiwe (Matteus 10:16). Ook hoor ons later by Petrus dat ons sober en nugter moet wees (1 Pet 5:8-9). Ons moet dink wat ons doen. Ons het nie die reg om liefdeloos, arrogant of dominerend te wees tussen mense wat nie die Here ken nie. Ons verteenwoordig nie onsself nie, maar vir Jesus. Hy het nooit mense met disrespek behandel, of hulle menswees ontken nie. Ons moet dieselfde doen. Ons moet met nederigheid tussen ander leef. Dit beteken nie dat ons nie mag nie eerlik wees met diegene wat droogmaak nie. Maar ons moet eers die reg verdien om gehoor te word deur die getuienis wat uit die res van ons lewe spreek. Nogmaals: waarheid, Jesus se soort, gebeur altyd in verhoudings. Lewensverandering ook!

bottom of page