top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Geen groter liefde as dit nie

deur Stephan Joubert Maximilian Kolbe, ’n Poolse priester, het gedurende die Tweede Wêreldoorlog as gevangene in Auschwitz beland. Dit was omdat hy sy klooster in Niepokalanow in Pole onder andere as ’n skuilplek vir by die 2,000 Jode ingerig het. As gevangene nommer 16670 is hy as Christen aan brutale mishandeling in hierdie berugte doodskamp onderwerp. Toe ontsnap iemand uit die selblok waar hy aangehou is. Die bewaarders se reël was dat in die geval van ’n ontsnapping tien ander gevangenes willekeurig na die tyd uitgekies is om ’n stadige hongerdood te sterf. Franciszek Gajowniczek was een van hulle. Hy het om genade begin smeek omdat hy ’n vrou en kinders het. Toe Kolbe sy pleitrede hoor, het hy aangebied om hierdie man se plek in te neem. Dit is toegestaan. Na twee weke se marteling, waartydens Kolbe nog gereeld met die nege ander slagoffers nagmaal gehou het, het hy alleen oorgebly. Op 14 Augustus 1941 is hy ingespuit met suur en sy liggaam is kort hierna verbrand. Kolbe se optrede herinner my aan Jesus se woorde in Johannes 15:13 dat daar geen groter liefde is as wanneer iemand sy lewe vir sy vriende aflê nie! Gajowniczek, wie se lewe gespaar is deur Kolbe se liefdesdaad, het nog bly leef tot op 13 Maart 1995. Hy het kort voor sy dood vertel dat hy met elke stukkie suurstof in sy longe vir die wêreld wil vertel van die liefdesdaad van Kolbe. Christenskap is nie maar net die regte belydenisse nie, hoe belangrik dit ook al is. Of net gereelde samekomste van gelowiges nie. Geloof word gesien en gevoel te midde van lyding, donkerte, swaarkry en pyn. Dis juis in donker tye dat lig van Christus die helderste gesien word. In sulke donker tye is dit doodgewone navolgers van Jesus wat skitter wanneer hulle vrede maak en genade aan ander bewys. Dan is dit hulle wat te midde van die grootste wreedhede wat mense kan pleeg die grootste liefde ooit laat seëvier. Hoe anders sal hooplose situasies en pynlike omstandighede in ons eie omgewing nie lyk as ons elkeen Jesus se vredemakers word wat sy liefdesroete ook daar uitleef nie.

bottom of page