top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

“Ek wens...” “Mag jy...” “Ek hoop...”

deur Stephan Joubert Die lewe loop vreemde draaie met party mense. Dit laat hoop by die agterdeur uitvloei by ander. In sulke tye is die beste wat ons vir mekaar kan sê iets soos: “ek hoop dit sal beter gaan.” Of “ek wens vir jou spoedige beterskap toe.” Ons wens graag vir mekaar goeie dinge toe, maar ons weet nie of dit gaan gebeur nie. Partykeer is dit ook maar net goeie maniere of die regte etiket om so iets te sê. Soos wanneer mense verjaar. Dan moet ons iets sê soos: “ek wens vir jou ’n goeie jaar toe,” of: “mag al jou drome in die nuwe lewensjaar waar word.” Mooi woorde. Meestal ook opreg bedoel. Tog is dit steeds net wense en nie sekerhede nie. God dra nooit net goeie wense oor as Hy met ons praat nie. Hy hoop nie maar net dit gaan beter met ons nie. Of dat ons drome sal waar word nie. Wanneer God ons seën, dan waarborg Hy sy eie teenwoordigheid. Hoor net hoe sluit Paulus 2 Korintiërs 13 af (Die Boodskap): “Die goedheid van die Here Jesus Christus, die oorvloedige liefde van God en die kragtige teenwoordigheid van die Heilige Gees is by julle almal. Amen.” Dit is geen blote wens hierdie nie. Nee, dit is die lewende God wat Homself verbind om by al sy mense te wees. God se seën in die Nuwe Testament is nie maar net gelyk aan meer grond, besittings of ’n langer lewe nie. Sy seën is sy eie teenwoordigheid. Dit is ’n feit, ’n realiteit. Jesus se genade; God se oorstromende liefde en die Gees se kragtige nabyheid is by elke gelowige. Wat ’n seën! Wat ’n woord om mekaar in hierdie week mee te bemoedig. Ontvang die Here se seën opnuut en leef hierbinne.

bottom of page