top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Sien jou kinders Jesus in jou lewe raak?

deur Helena Smith Onlangs gesels ek en ’n vriendin oor kinders grootmaak. Ek dink glad nie dat ek ’n ghoeroe op die gebied van kinderopvoeding is nie, maar ek is ’n ma, ’n ouma en ’n juffrou met ’n paar jaar ondervinding. My eenvoudige filosofie oor kinderopvoeding is, dat kinders drie dinge nodig het: baie soene, baie slae en baie bid. My man bewoord dit ’n bietjie beter: liefde, gebed en grense. Tydens die grootwordjare van ons eie kinders het ek telkemale nie geweet hoe om ’n seker situasie te hanteer nie en het baie tyd op my knieë deurgebring. In daardie jare het ek besef hoe afhanklik ek van God se hulp en ingryping is. Bid jy al van jou kind se kleuterjare af dat hy/sy eendag met die regte huweliksmaat sal trou. Bid jy gereeld dat jou kind ’n persoonlike verhouding met die Here sal hê? Oor die onderwerp van grense kan ’n mens ’n boek skryf. My ondervinding is dat kinders tuis reëls, roetine en struktuur moet hê. Kinders moet weet dat slaaptyd, huiswerktyd en die aantal ure wat hulle TV mag kyk ononderhandelbaar is. As onderwyseres kom ek agter dat die kinders met min struktuur by die huis, die kinders is wat gereeld detensie moet sit! Kinders smag eintlik na grense! Ek dink ons almal weet dat liefde eintlik TYD gespel word. Al het jy ’n besige skedule, is dit noodsaaklik,dat jou kind jou onverdeelde aandag kry as hy/sy dit nodig het. Woon hulle sportwedstryde by. Maak koffiewinkelafsprake met elkeen van jou kinders apart. Speel met jou kinders! So leer ken julle mekaar op ’n heel ander vlak. Die afgelope naweek het ek egter besef dat ek na al die jare my lysie van drie belangrike dinge moet verander na vier! ’n Seun het op sy pa se sestigste verjaarsdag onomwonde verklaar dat sy pa vir hom soos Jesus is, omdat hy daagliks liefde en genade teenoor sy kinders uitleef. Wat ’n getuienis! Sien jou kinders Jesus in jou lewe raak?

bottom of page