top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Voel reg

deur Stephan Joubert Ons is gevoelsmense. Ons voel voordat ons dink. Ons emosies bepaal ons besluite. Daarom is dit belangrik om ons emosies reg te bestuur. Anders hardloop hulle met ons weg. Die feit dat ons dit weet, is ’n stap in die regte rigting. Ook moet ons weet aan watter emosies ons voorkeur moet gee, en aan watter nie. Jesus se voorbeeld, soos wat die evangelies dit beskryf, is ons padwyser. By Hom leer ons watter emosies ons moet aanmoedig. Ook leer ons by Hom binne watter situasies ons onsself gedurig moet plaas om reg te voel:

  • Blydskap as verlore eiendom tuiskom. Jesus was die blyste wanneer sy Vader se verlore eiendom tuis kom. In Lukas 15 vertel Jesus drie gelykenisse van verlore besittings van God wat teruggevind word. Die storie van die verlore muntstuk, verlore skaap en verlore seun vertel van feesvierings wat in die hemel uitbreek as hulle gevind word. In Lukas 10 lees ons ook hoedat Jesus oorloop van blydskap as sy dissipels vertel hoedat hulle die koninkryk van God bekendgemaak het. Maar sy grootste vreugde is dat God hulle name ook in die boek van die lewe opgeskryf het. Hieroor sing en dans Jesus.

  • Feestyd saam met die Here se familie. Jesus het graag tyd gemaak om fees te vier saam met sy dissipels. Dit was ’n prioriteit op sy daaglikse kalender. Skaars het Levi aangemeld as die nuutste bekeerling, of Jesus eet saam met hom en sy vriende in Lukas 5. Dieselfde gebeur met Marta en Maria in Lukas 10, en met Saggeus in Lukas 19. Jesus is nie in die tref en trap bedryf nie; Hy leef op die kuier en feesvier roete. Daarom loop Hy selfs 'n hele dag lank saam met die Emmausgangers net om brood met hulle te breek in Lukas 24 en sy identiteit aan hulle te openbaar. Hierna verskyn Hy in Jerusalem aan sy dissipels met feeskos op die tafel! G’n wonder nie dat ’n feesmaal en ’n bruilof die simbool van die nuwe wêreld van God is.

  • Omgekrap oor skynheiligheid en medelye met lydendes. Jesus se emosies het opgevlam oor mense se skynheiligheid. Wanneer godsdienstige leiers dooie wette op mense se skouers gelaai het wat hulleself nie eens kon dra nie, was Jesus woedend (Matteus 23). Maar Sy medelye was altyd tasbaar teenoor armes, weduwees, vreemdelinge en randfigure. Sy hart het gesmelt toe Hy die honger skares in Matteus 14 en 15 sien, of wanneer die skares soos skape soos ’n herder was daar in Matteus 9.

Ons moet ons emosies reg bestuur, anders val ons lewens uitmekaar. Die regte manier is om onsself aanhoudend in situasies te plaas waar die regte gevoelens kan groei in ons lewe. Ek praat van gevoelens soos blydskap, vreugde en medelye oor daardie mense en sake wat vir Jesus die belangrikste was. Doen dit en groei!

bottom of page