Kies jy die béste deel?
deur Milanie Vosloo Mag Hy julle harte rustig maak en julle geloof sterk maak. En mag Hy julle help om die hele tyd net die regte dinge te sê en te doen. — 2 Tessalonisense 2:16 Vrouwees beteken dat ons altyd rede sal hê om besig te wees. Daar’s mos maar altyd iets wat ’n vrou móét of dalk wíl doen. Ons harte is eenvoudig só diensbaar aanmekaargesit. Nou weet ons dat dit goed vir ons is om produktief en nuttig te voel en dat ’n groot deel van ons selfwaarde bepaal word juis uit dié dinge waarmee ons onsself besig hou. Maar doenigheid kan ook óórdoen word! En wanneer ons begin voel dat ons lewens uitmekaar val, ons nooit meer tyd vir onsself het nie en ons nie meer ons stiltetyd-program volg nie … dan ís ons te besig. Dis nie net ons moderne vroue wat stoei met die kwessie van balans nie. Ons ken almal die verhaal van die twee susters, Marta en Maria, by wie Jesus gaan kuier het. (Lukas 10:38-42) Albei hierdie vroue stel uit eie reg vir ons ’n voorbeeld. Terwyl Marta haar liefde met diensbaarheid en gasvryheid toon, kies Maria om by Jesus se voete te gaan sit ... en te luister. Wanneer Marta ietwat geïrriteerd vir Jesus vra dat Maria moet kom hand bysit, is sy antwoord: “... jy is besorg en bekommerd oor baie dinge, maar net een ding is nodig. Maria het die beste deel gekies en dit sal nie van haar weggeneem word nie.” Vra jouself vandag: Voel ek vervuld omdat my lewe in perfekte balans is? Maak ek genoeg tyd vir dié dinge wat werklik belangrik is? Sou ek nie dalk ánders oor baie dinge voel as ek meer tyd by my Vader se voete deurbring nie? Besluit dan dat jy nooit tweede beste sal kies deur die béste na te laat nie:
Máák tyd vir vroegoggend stiltetyd en gesels reg deur die dag met Hom.
Neem Hom vanaand saam na die binnekamer van jou hart wanneer jy sy Woord indrink.
Beplan jou lewe saam met Hom só dat jy elke dag ’n oorvloedig geseënde en gebalanseerde lewe sal leef.
Liewe vrou, maak — ondanks al die eise van vrouwees — baie gereeld tyd om in die teenwoordigheid van jou Vader te wees. Jy sal vind dat dié heilige saamwees-tye en vervullende sielsherlaai-tye ... die béste tye van jou lewe is! Gees van God, ek wil so graag getrou wees aan U, maar ek sukkel! Ek sukkel om tussen al die verantwoordelikhede en verpligtinge van hierdie wêreld die perfekte balans te kry. Sal U my asseblief wys hóé? Uit: Siel van ’n Vrou, CUM