top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Standbeelde!

deur Stephan Joubert Die afgelope weke is standbeeld-gevegte aan die orde van die dag. Emosies loop hoog hieroor. Mense is kwaad en bakleierig hieroor. Die verlede word onder die mat ingevee, reken sommiges. Ander sê weer daardie einste verlede is presies waar die moeilikheid begin het. Middelgrond is skaars in hierdie tyd. Dit is nogals jammer dat party gelowiges meer ontsteld is oor dooie standbeelde as oor lewende mense. Ja, standbeelde is simbole. Hulle verteenwoordig die geskiedenis. Hulle kan nie maar net so van die tafel af gevee word nie. Maar gelowiges verteenwoordig ook ’n ander gesprek en ’n ander werklikheid. Ons is God se lewende standbeelde. Ons is na Sy beeld geskep, en ook herskep toe Christus ons Syne gemaak het! Ons is God se beelddraers. Ons verteenwoordig Hom. Ons is sy lewende standbeelde. Ons is wandelende tempels van die Gees. Ons is weerkaatsers van God se heerlikheid. Ons is Christus se vredemakers en brugbouers. In ’n tyd soos hierdie waar mense brûe brand en waar emosies hoog loop, moet ons God se genadetaal praat en leef. Ons verteenwoordig ’n ander Heer met nuwe norme en waardes; dis nou te sê, as ons regtig die Bybel glo dat ons deel is van ’n nuwe volk van God waar die skeidsmuur tussen Jode en nie-Jode afgebreek is. In Paulus se woorde in 2 Korintiërs 5:17-21 is ons ambassadeurs van die Allerhoogste wat pleit dat mense die versoening aanvaar met God wat Christus bewerkstellig het. Ons is brugbouers en herstellers van die breekskade aan God se lewende standbeelde.

bottom of page