top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Leeg gestroop

deur Stephan Joubert Leeg gestroop! Dis presies wat met die dood gebeur het. Op daardie einste oomblik toe Jesus die doderyk se hekke oopgestamp het op Opstanding Sondag, is die dood se bluf finaal geroep. Dit het verloor. Die dood het nie meer die laaste sê nie. Sy troefkaart is vir altyd weg. Die doderyk is gestroop, getem en geknak. Dit is geplunder en beroof. Die dood kan ons nie meer gevange hou nie, want Jesus hou die dood se sleutels vas, soos wat Openbaring 1 sê. Om in Jesus te glo, is om nou reeds tot ’n ewigheid ver anderkant die dood te sien. Dit is om Hom te sien en te ken wie die Lewe Self is. Geloof is om ook te deel in Jesus se nimmereindigende nuwe lewe. Dit is om met hoop te leef te midde van die laaste skadu’s wat die dood nog oor ons stukkende wêreld gooi. Ons geloof laat ons saam met Jesus leef in die rigting van die wenpaal. Dit laat ons volhard omdat ons die toekoms gesien het, daardie toekoms wat Christus vir ons voorberei. Ons geloof in die opgestane Heer hou ons fokus eksklusief op Hom. Wat ’n voorreg on Hom te ken wat die dood leeg gestroop het sodat ons wat in Hom glo waarlik kan lewe.

bottom of page