top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Hartroerend ánders!

deur Milanie Vosloo Hierdie kinders van wie daar gepraat word, is die mense wat deur die Here vrygekoop is van hulle ou slawelewe. Hulle sal vrolik en opgeruimd met hierdie pad na Jerusalem toe terugkom. Hulle hartseer en swaarkry sal iets van die verlede wees. — Jes 35:10 Roep die twee dramatiese gebeurlikhede voor jou geestesoog op: Op die een lê ’n hoop klippe bo-op die stukkend-gebreekte liggaam van ’n vrou. Die bloed van haar wonde deurdrenk die grond met ’n wrede rooi kleur. Jy sien hoe haar kermende liggaam stil word onder die aanslag van die steniging ... Dan sien jy die ander toneel: Dieselfde vrou staan tussen ’n klomp mans — elkeen met ’n klip in die hand — gereed om haar te stenig. Hierdie keer is dit egter ánders. Jesus is daar! Jy sien hoe Hy rustig met die mans praat, hulle die klippe neersit en een-een van die toneel verdwyn. Die eens bang en onseker vrou stap huppelend van vreugde weg. Die Seun van God het haar lewe gered: letterlik en figuurlik!* Christus se koms het elkeen van ons se lewensdramas dramaties verander. Hy het die hoop sonde-klippe van ons lewens met één daad van ons skouers afgehaal sodat ons, wat in Hom glo, elke dag as huppelende vreugdevroue kan leef! Die vraag is : Hoe leef jy? Leef jy met ’n stuk swaarmoedigheid in jou hart en laat jy toe dat die wêreld se klippe jou van jou vreugde stroop? Of leef jy regtig vanuit die vreugde dat jy verlos is? Besef jy werklik dat — indien Jesus in jou lewe is — jy nie net eendag nie, maar ook hier en nou met blydskap kan leef? Of het jy toegelaat dat die swaarkry en lyding van hierdie wêreld jou uitsig totaal oorskadu? William Barcley sê: Die enigste antwoord op die vraag na die sin van lyding lê in uithouvermoë. Maar uithouvermoë beteken nooit ’n strak, somber aanvaarding van die noodlot nie; dit is om wanhoop te oorwin deur ’n keuse te maak. Alhoewel lyding ons lewe kleur, kan ons nog altyd kies wat daardie kleur gaan wees. Miskien is jy een van daardie mense wat jouself met negatiewe gedagtes stenig. Dalk laat jy toe dat mense, dinge en omstandighede jou vreugde steel. As jy soms swartgallig leef, bid dan dat die gees die prentjie van jou lewe met hoop, verwagting en vreugde sal kleur. Bid dat jy onder alle omstandighede die vermoë sal hê om die ánder kant — die ewig-positiewe kant — van die lewe te sien. Jy kan dit doen, want jy het Jesus by jou: Dié Jesus wat enige situasie verrassend ánders kan maak omdat niks by Hom onmoontlik is nie. Gees van God, help my glo! Help my om U te vertrou en te wéét dat geen situasie so donker is dat U dit nie kan lig maak nie. Help my Here om daarom altyd met vreugde te leef. * Johannes 8:1-11 Uit: Siel van ’n Vrou, CUM

bottom of page