top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Kla mag nie in die mode wees daar in jou omgewing nie

deur Stephan Joubert Jy hoef nie Einstein se brein te hê om te weet dinge is tans moeilik in Suid Afrika en op baie ander plekke in die wêreld nie. Jy kan enige tema onder die son aanroer en dadelik sal mense vir jou sê hoe sleg dit gaan op daardie front. Almal is ongelukkig in hulle werk. Alle politici is korrup. Eskom is donker verby. Rugbyspelers maak almal droog... Dit voel of almal kwaad is vir die res... maar dalk moet ons twee belangrike dinge weet oor foutvinderigheid: a. Daar’s niks nuut onder die son nie. Aristofanes het reeds in die 4de eeu voor Christus in sy toneelstuk Wolke die volgende geskryf: “Kinders is nou versot op luukshede. Hulle het slegte maniere en geen respek vir gesag of vir ouer mense nie. Kinders het verander in tiranne; hulle is nie meer diensbaar in hul huise nie. Hulle staan nie op vir ouer mense nie, weerspreek hulle ouers, ken nie hul plek in geselskap nie en intimideer hulle leermeesters.” b. Ons gebruik dikwels meer negatiewe as positiewe woorde. In ’n studie wat ek hieroor raakgelees waarin die 24 mees gebruikte emosionele woorde in Engels bekyk is, is bevind dat slegs ses van hierdie woorde positief is. In ’n ander meer omvattende studie waar 588 emosionele woorde bekyk is, is bevind dat 62% negatief is en net 38% positief. In nog ’n stukkie navorsing waar indringend na mense se algemene persepsies gekyk is, is bevind dat mense altyd eerste aan negatiewe dinge aandag gee. (Terloops, gaan kyk bietjie wat is die mees geleesde artikels op koerante se webblaaie.) Sonder dat ons dit besef verval ons maklik in die slegte roetine om slegte nuus eerste raak te sien, hoor en om goor stories gedurig te hersirkuleer. As ons op die Here se roete leef, het ons nie die “luukse” om hierdie koers in te slaan nie. Dan kan ons nie heeltyd op die nuutste slegte nuus teer of stres nie. As ons Jesus navolg, moet ons meer weet oor alles wat reg is in God se koninkryk as wat verkeerd is op die sonde–front! Dan moet ons doodeenvoudig begin glo wat daar in Kolossense 3:2 staan naamlik dat ons ons gedagtes moet rig op die dinge daarbo waar Christus is. Dan moet ons Filippense 4:8 ernstig opvat. “Verder, broers, alles wat waar is, alles wat edel is, alles wat reg is, alles wat rein is, alles wat mooi is, alles wat prysenswaardig is — watter deug of lofwaardige saak daar ook mag wees — daarop moet julle julle gedagtes rig.”

bottom of page