Ruil op!
In een van my gunsteling boeke, Love does: Discover a Secretly Incredible Life in an Ordinary World (2012), vertel Bob Goff, hoe hy en sy seuntjie een keer 'n speletjie genaamd “Bigger and Better” gespeel het. Hierdie speletjie skop af met iets van min waarde, soos ‘n 20 sent stuk. Hiermee gaan klop jy aan iemand se deur. Dan vra jy of hulle iets van meer waarde wil verruil vir hierdie 20c. Hierna vat jy dit wat jy die eerste slag geruil het en ruil dit nogmaals op vir iets van hoër waarde. Die doel van die speletjie is dat jy aan die einde van die dag moet opeindig met dinge van groter waarde as dit waarmee jy afgeskop het.
Bob Goff pas hierdie “Bigger and Better” speletjie toe op Jesus en sê Hy speel ook graag hierdie spel met ons. Maar Jesus se roete gaan nie daaroor dat ons moet opeindig met nog meer geld, besittings of dinge nie. Inteendeel; daardie spel staan bekend as “The Rat Race.” Daar verloor selfs die wenners uiteindelik alles! Nee, Jesus daag ons juis uit om dit wat in ons eie oë so baie saak maak, en dit wat as waardevol beskou word in die oë van almal rondom ons, in te gooi in sy eie weergawe van "Bigger and Better."
Die vraag is of ons dit wat ons menswees tot op hede gedefinieer het sal agterlaat en sal toelaat dat Jesus definieër wie ons voortaan is en ook wil wees. Dissipelskap gaan oor lewenslange inoefening en navolging van sy lewe van opoffering, nederigheid, vrygewigheid, vergifnis, deernis en sorgvryheid. Dissipelskap moenie blindelings verwar word met nog meer kerklike betrokkenheid nie, al is laasgenoemde belangrik. Of met nog meer godsdienstige handelinge nie, al dien dit as ’n uitdrukking van ons wandel met die Here.
Die Griekse denker Epiktetus het gesê dis onmoontlik om mense iets te leer wat hulle dink hulle alreeds weet. Dalk weet ons net te veel van kerkwees en godsdiens af om te verander. Dalk is ons koppe verstop met ons eie idees van “Bigger and Better” om ’n slag regtig dit wat ons lewens definieër op te ruil vir Jesus! Of wat praat ek alles.