top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Liefhê vir altyd

deur Milanie Vosloo My liewe vriende, laat ons aanhou om mekaar lief te hê, want liefde kom van God af. Aan liefde ken ’n mens die kinders van God uit, want hulle ken Hom goed. God is liefde! Iemand wat nie liefhet nie, weet niks van God nie. — 1 Johannes 4:7-8 In die aanloop tot Valentynsdag is die winkels gewoonlik propvol I-love-you-kaartjies, hartjie-koffiebekers, rooi hartsjokolades en rakke vol teddiebere wat jou wil verseker “dat hulle lief is vir jou“. En ja, soms wil ons mos vir iemand tasbaar wys en sê dat hy of sy vir ons spesiaal is. Maar nou weet ons ook dat liefde allermins uit ’n eenmaal-per-jaar-pakkie opgemaak kan word. Goddelike liefde, lees ons in die Woord, is iets baie dieper, groter en heiliger as woorde: Dis om so naby aan God te leef dat daar iets van sy ontsagwekkende liefde deur jou lewe wys. Hoor hoe duidelik stel Johannes dit: God is liefde. As daar dus liefde uit jou lewe straal, vertel dit hoe naby jy aan God leef. (1 Johannes 4:16b) Hoe kan ek en jy God se liefde in hierdie wêreld prakties en sigbaar leef?

  • Ons kan sorg dat die Gees ons elke dag van voor af met sy liefdevolle goedheid vul. Só sal ander iets van die liefde van Christus in ons lewens sien, hoor en voel.

  • Ons kan liefhê deur getrou vir ander te bid: In stilte of saam met ander. Die Gees het ’n manier om mense se harte deur gebed vir ewig te verander!

  • Ons kan “ek-het-jou-lief” sê deur eenvoudige woorde soos: “Kan ek jou help?”, “Dankie”, “Jy is vir my spesiaal” en “Ek waardeer jou”.

  • Ons kan ons liefde wys deur vir ander op te offer, ’n bederf-iets te doen, vriendelikheid en warmte uit te straal en ons deernis en omgee uit te deel.

  • Ons kan vir die wêreld vertel hoe groot ons God van liefde is en sy verlossingsliefde mildelik aan hulle uitdeel.

Phil Bosmans skryf: Moenie jou liefde in die weegskaal plaas nie. Moenie meet hoe breed en hoe lank dit is nie. Liefde wat geweeg en gemeet word, is nie liefde nie, maar berekening. Laat jou liefde spontaan wees, sonder enige bybedoelings, oorspronklik en eg, dan kom daar vreugde oor jou; dan word dit warm om jou hart; dan is jy gelukkig en kan jy sing en dans. Leef elke dag God se liefde: Dié liefde wat onvoorwaardelik, vergewensgesind en oorvloedig is. Só deel jy heeljaar pakkies vol lewensvreugde aan ander uit. Here, leer my om liefde te dink, te doen en te praat. Leer my om iets van u ontsagwekkende liefde op hierdie aarde uit te leef. Leer my om U só lief te hê dat ander U in my kan sien. Uit: Siel van ’n Vrou, CUM

bottom of page