Afkyk is uit
deur Stephan Joubert Hoogmoed laat jou afkyk. Solank as wat jy afkyk op ander mense kan jy nie opkyk na hulle nie. So skryf C. S. Lewis oor die gevaar van hoogmoed in sy bekende werk “Mere Christianity.” Hoogmoed verander jou ingesteldheid teenoor mense. Dit verander ook jou manier van praat met en oor hulle. Dit maak dat jy vanuit die staanspoor bevooroordeeld is as jy met daardie mense te doen het. Hulle velkleur, hulle sosiale posisie, hulle manier van glo — sulke dinge maak dat jy hulle as minderwaardig, dom of oningelig beskou. En dat jy hulle nooit ernstig opvat of vir hulle omgee nie. G’n wonder nie jy kyk af op hulle. Daarom dat God hoogmoed so haat. Hy kan dit nie uitstaan nie. Hy stamp hoogmoedige regeerders van hulle trone af en verstoot arrogante mense wat op almal rondom hulle trap. So sing Maria in haar loflied in Lukas 1. Moenie afkyk op mense nie. Dit pas nie by kinders van God nie. Dis teen God se wil. Paulus skryf in Filippense 2 dat die gesindheid of die hart van Christus in ons elkeen moet wees sodat ons een die ander mense sal hoër ag as onsself. Nederigheid laat ons opkyk na mense. Dit laat ons ons opinies oor hulle terughou totdat ons ’n kilometer of twee in hul skoene geloop het. En een van hulle laste op ons eie skouers getel het soos wat Galasiërs 6 leer. Dan sal ons oorhaastige opinies verander in wyse raad en omgee.