Vat die dringende roete
deur Stephan Joubert Daar’s ’n groot verskil tussen dringende mense en gejaagde mense. Gejaagde mense leef stres–aangedrewe. Hulle jaag hulleself doodmoeg. Nooit is hulle werk afgehandel nie. Kommer, angstigheid en bitterheid tel onder hulle beste vriende. Gejaagde mense sit spoedig opgeskeep met harde harte. Nie eens hulle geloof maak enige verskil aan hulle gejaagdheid, hulle “hurry–sickness” nie. Daarteenoor is dringende mense diegene wat weet wie hulle is in Christus en waarvoor God hulle hier op aarde geplaas het. Hier is ’n paar lewensbelangrike verskille tussen gejaagde en dringende mense (uit die boek: JY KAN ’N VERSKIL MAAK, CUM Boeke, 2014):
Gejaagde mense rus eers nadat hulle vir die Here gewerk het, maar dringende mense dien Hom en ander vanuit hulle rus.
Gejaagde mense werk vir die Here, maar dringende mense leef vir die Here.
Gejaagde mense verstaan hulle lewe in terme van take wat vir die Here afgehandel moet word. Dringende mense word egter gemotiveer vanuit ’n diep innerlike oortuiging van hulle liefde vir die Here. Dankbaarheid teenoor Hom en nie plig nie, dryf hulle aan.
Gejaagde mense se werk is nooit klaar nie. Daar is altyd nog ’n krisis, nog ’n besoek, nog ’n vergadering om in te pas. Hulle skouers is altyd te smal vir die las wat hulle self probeer dra. Hierteenoor weet dringende mense hulle is in die Here se diens. Hulle laat Hom toe om hul eie en ander se laste te dra. Hulle leer mense ook om hul probleme self by die Here se voete te gaan neersit. Dienend wys hulle vir ander die beste plekke aan digby Jesus se voete.
Gejaagde mense sit opgeskeep met skuldgevoelens, maar dringende mense het groot vryheid in Christus. Hulle het ’n diep besef van wie hulle is voor die Here. Ook weet hulle wat daardie paar talente is wat die Here spesifiek aan hulleself gegee het en hulle woeker daarmee. Hulle probeer nie alles vir almal wees, of almal tevrede stel nie. Hulle maak vrede met die feit dat haastige mense altyd gefrustreerd sal wees met hulle. Dit maak egter vir hulle meer saak dat die Here met hulle tevrede is as dat “haastige hart” mense van hulle moet hou.
Gejaagde mense blink uit in beheer en kontrole om almal in die “boks” te dwing en tot aksie aan te spoor. Hierteenoor leef dringende mense verhouding–aangedrewe. Vanuit hulle verhouding met Jesus gebeur hulle lewe. Hulle integriteit en fluksheid gebeur nie vanuit pligsbesef nie; dit spruit voort uit hulle liefde vir die Here en sy mense. Nee, dringende mense is nie laissez faire karakters wat sonder orde, struktuur of enige planne leef nie. Hulle doen dit alles net vanuit hulle diep rus in die Here. Wees so iemand!