Vrees nie!
deur Milanie Vosloo Jesus sê vir hulle: “Moenie bang wees nie ...“ — Matteus 28:10a Dis nog skemer toe die twee vroue na die graf toe loop. Hul harte is rousmart–seer oor die vorige dae se ontstellende gebeure. Hulle moes magteloos toekyk hoe hul Jesus–vriend gemartel, gespot en bo–menslik wreed aan ’n kruis vasgespyker word. Hulle harte is nog stukkend van die herinneringe om Hom so weerloos aan die kruis te sien sterf. Vanoggend hoop hulle om hul ontslape Meester se liggaam te balsem ... as hulle tog net weet hoe hulle die groot klip voor die graf kan wegkry ... En dan die wonder: ’n Engel rol die klip vír hulle weg en stel die twee verskrikte vroue gerus met die boodskap dat hul Here wat dood was, léwe! Terwyl hulle met oorstelpte harte weghardloop om die ander daarvan te vertel, staan Jesus meteens sélf voor hulle met dié woorde: “Moenie bang wees nie...” Elke nuwe begin hou ’n stuk onsekerheid in: of dit nou die begin van die jaar, die begin van ’n nuwe werk of verhouding of die begin van ’n nuwe fase in jou lewe is. Ja, die toekoms is vir ons soos die vroegoggend–skemertyd omdat ons nie weet wat dit gaan inhou nie. Daarom gooi die onsekerheid van die onbekende soms lang skaduwees oor ons harte. Heel dikwels wonder ons ook, soos die vroue oppad na die graf, met beklemde harte hoe ons alles gaan hanteer. Sulke tye – wanneer ons onseker tuur oor ons toekomshorison is dit des te meer die tyd om te roep: Here, help! En wanneer ons ons afhanklikheid van God verklaar, sal die Gees ons opnuut daaraan herinner dat Hy – die lewende God – bý ons is en dat Hy ons klipswaar–harte lig wil maak. Ja, Hy wil ook vandag vir jóú van sy trou en sorg verseker en gerusstel met dié woorde: “Moenie bang wees nie ...”
Word vir ’n paar minute stil sodat sy vrede–nabyheid soos vars vroegoggend–lug om jou kan vou.
Laat toe dat sy heerlikheid soos die dagbreekson elke stukkie skemer uit jou hart verdryf.
Wéét: Sy liefdevolle genade sal jou tree vir tree op jou reis vergesel en steeds by jou wees as jou lewens–son agter die horison verdwyn.
Hoor wat sê Jesus vandag vir jou: “En wees verseker: Ek verwag nie dat julle dit alleen moet doen nie. Elke dag, tot met die wederkoms, sal Ek self by julle wees.” — Matteus 28:20b Vader van die Toekoms, wees my hemelse Hoop vir môre, die Sielsgenoot in my sorg, die leidende Lig vir elke dag en die Wysheid vir wat op my wag. Wees asseblief die Altyd–by–my–Vriend. Nou en altyd! Uit: Siel van ʼn Vrou, CUM