Nie ’n masjien nie
deur Stephan Joubert Geloof en gebed werk nie soos ’n koeldrankmasjien waarin jy geld gooi, en dan val die regte koeldrank onder uit nie. Gebed is ook nie ’n afdreigmiddel waarmee ons God probeer forseer om ons wil te doen nie. Nog minder is dit ’n emosionele opswepery, ’n oorvloed van woorde, of ’n harde geraas om God se aandag te probeer trek. Gebed is ’n verhouding met die lewende God. Dit is om tot rus te kom aan sy voete. Dis om getrou te wag op Hom. Gebed is om minder te word sodat Christus meer kan wees. Gebed is om uit God se pad te staan sodat Hy deur sy Gees sal doen wat net Hy kan doen. Al is dit glad nie verkeerd om lank te bid nie, hou God nie boek van die lengte van ons gebede nie. So herinner Jesus ons in Matteus 6. En al is dit ’n wonderlike ding dat ander mense vir ons bid as ons in ’n krisis is, vertel vele Psalms vir ons dat onsself elke keer die eerste linie van gebed is. Al moet ons vir mekaar bid, tel God nie hoeveel ander mense elke keer vir ons bid nie. Onsself moet Hom aanroep in die dag van onheil. Onsself moet heel eerste opkyk na Hom in die dag van gevaar. Daar bestaan nie so iets dat ons kan afvat wat gebed betref as onweerswolke rondom ons saampak nie. Ons moet altyd en orals bid, as die son skyn en as ons deur die donkerte moet worstel. Gebed vorm ons al hoe meer na die beeld van God. Dit verskuif die fokus weg van onsself na God toe. Egte gebed vul ons met die vrede van God en die wysheid van God. Dit bring ons haastige harte tot rus. Daarom dat ons in 1 Tessalonisense 5 beveel om te bid sonder ophou.