Sê dankie
deur Stephan Joubert Ek vermoed ek het my eerste pakslae gekry net na my geboorte. Die dokter het my op my boud gepiets. Toe sê my ma: “Sê vir die oom dankie!” Wel, ek vermoed sy sou, want ek is gedurig deur haar beveel om dankie te sê. Dankie op ons lippe wys ons is minstens nie deur wolwe grootgemaak nie, soos wat ‘n skrywer iewers opmerk. Tog is ons belangrikste woorde van dank dié wat ons vir God sê. Dit gebeur in ons gebede en in ons liedere. Ons gebede moet minder van onsself daarin hê en meer van God. Ons moet leer om minder dinge vir onsself te vra en meer dank en lof aan God gee. Dankbaarheid is om intens bewus te wees van God se goedheid in ons lewe en om dit gedurig vir Hom te sê. Tog moet ons dankbaarheid nie net hoorbaar wees nie, maar ook uitgeleef word. In die woorde van Kolossense 3:17 moet alles wat ons doen in woord en daad vir die Here Jesus gedoen word. So is ons heeltyd besig om deur Hom dank aan ons Hemelse Vader te bring. Dankbaarheid het nie net harte en woorde nie, maar ook hande en voete!