top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Die nes is leeg!

deur Helena Smith Nie lank gelede nie, was ek ’n besige werkende vrou, ma, huisvrou en ’n vrou vir my man. Dit het party dae maar woes gegaan. Vele kere is middagete in die motor genuttig terwyl ek en een of meer kinders vir ’n boetie of sussie wag by ’n aktiwiteit by die skool. Huiswerk is gereeld ook in die kar gedoen. Ons het soms by die huis gekom teen seweuur saans en dan was daar nog geen aandete nie. Vele kere het ek gewens dat hierdie stadium in ons lewe net kon verbygaan. Helaas het hierdie stadium heeltemal te vinnig verbygegaan. Ons oudste dogter is ses jaar gelede getroud en verlede jaar is ons twee jongste kinders getroud. Ek het altyd gedink dat mense wat kla van ’n leë nes, hule koppe moet laat leës. Die stilte sou salig wees! Die leë nessindroom het my egter reg van voor getref. Skieilik was die stilte nie so salig nie! Ek was eintlik verveeld. Daar was niemand om rond te ry nie. My kinders was so besig met hulle lewens, dat dit vir my gevoel het asof hulle my nie regtig meer nodig het nie. Ek was nou gereeld alleen in my man se geselskap en partykeer het dit vir my gevoel asof ek nie weet wat om vir hom te sê nie! Ek het soveel tyd aan my kinders spandeer, dat dit nou vir my gevoel het asof ek geen lewensdoel meer het nie! Vandag wil ek vir jonger ma’s, wat nou in die vreeslike besige tyd is van kinders grootmaak, rondry en voed, die volgende sê: Geniet hierdie tyd, dit gaan vinnig verby! Knoop sinvolle geselsies in die motor aan terwyl jy jou kinders rondry. Sorg dat jy genoeg tyd maak vir jou man, sodat hy nie vir jou ’n vreemdeling is as julle eendag alleën in die huis is nie. Vir die dames wat ook nou ’n leë nes het, soos ek: Behou sinvolle, maar nie oordadige kontak met jou kinders nie. Leer jou man van voor af ken. Gaan op opwindende dates. Geniet die netjiese huis en die feit dat julle meer gereeld kan gaan uiteet! Dan het ek geleer dat ek nou soveel meer tyd het vir stiltetyd. Ek kan nou daardie geestelike boeke lees waarvoor daar nie altyd tyd was nie. Aangesien my nes leeg is, het ek nou baie meer tyd om my tenk vol te maak by die Here!

bottom of page