God is genoeg
deur Stephan Joubert God is genoeg. Regtig! Tog was dit nie altyd die geval in my eie lewe nie. Vir ’n lang tyd het ek gedink Christus is genoeg, maar toe kom ek op ’n dag agter ek het Hom eintlik nodiger vir al daardie dinge wat Hy vir my moet doen as wat ek Homself nodig het. Onder andere het ek die ewige lewe nodig gehad. Toe gee Jesus dit vir my. Ook het ek Iemand nodig gehad wat my krag moes gee as ek dit kortgekom het. Hy het presies dit gedoen! Hy moes in al my behoeftes en begeertes voorsien. Nou praat ek van goeie begeertes, soos om hemel toe te gaan, gesond te wees, reg te leef en nog meer bruikbaar vir God te wees. Opsigself is al hierdie behoeftes goed en reg. Die probleem was net dat ek nie vir Jesus alleen nodig gehad het nie. Of slegs na Sy heilige teenwoordigheid verlang het nie. Diep binne in my wou ek gedurig hê Jesus moes in al my behoeftes voorsien. Die uiteinde was dat ek behoefte-aangedrewe geraak het wat my geloof betref. Ek het in ’n godsdienstige verbruiker verval. Solank as wat Jesus alles vir my gegee het waarvoor ek gebid het, was ek gelukkig en dankbaar. Maar as dit gelyk het of my gebede onverhoord by die Here se troon verbygaan, dan was ek lang-gesig. Toe leer die Here my die les van ’n leeftyd. En dit is dat as die Here Self nie vir my genoeg is nie, dan sal ek nooit geestelik groei nie. Anders gesê, geestelike groei is om te skuif vanaf alles wat God vir my moet doen tot God wat altyd en orals vir ons GENOEG is. Groei is om saam met Paulus uit te jubel: Vir my is om te lewe Christus. Hy is my lewe, my hoop, my blydskap, my alles. Net Hy! (Uit: GOD IS GENOEG, CUM UITGEWERS 2014).