Twyfel
deur Elmarie van der Westhuizen “We often think of great faith as something that happens spontaneously so that we can be used for a miracle or healing. However, the greatest faith of all, and the most effective, is to live day by day trusting Him. It is trusting Him so much that we look at every problem as an opportunity to see His work in our life.” — Rick Joyner Almal van ons ervaar een of ander tyd twyfel. Die duiwel val ons aan deur twyfel — hy het Eva in die paradys laat twyfel — “Het God werklik gesê ... ” (Genesis 3:1) en sedertdien laat hy ons twyfel oor die goedheid en betroubaarheid van God. Selfs die wat die opgestane Christus gesien het, het getwyfel (Matteus 28:17) en in die woestyn het hy selfs vir Jesus aangeval met twyfel (Lukas 4:3-10). Die Here verstaan ons twyfel — Hy vra vir Thomas om sy vinger in die merke op Sy hand te sit. Enige belydenis van geloof te die midde van swaar omstandighede verheerlik nie net die Here se Naam nie, maar versterk ook ons geloof. So het Imelda, wat te midde van die lesse wat sy in ’n huwelikskrisis moes leer, gevind dat haar eie geloof versterk word wanneer sy teenoor haar bekommerde ma getuig het hoedat God haar deur dit alles dra. Dit is maklik om geloof te hê wanneer alles sin maak. Dit is moeilik en pynlik om God te vertrou en vir Hom te leef wanneer dinge nie reg verloop nie. Wanneer ons vra en niks gebeur nie, wanneer dit voel asof ons gebede voor ’n toe deur beland. Wanneer ons twyfel in God se goedheid, is dit nie omdat God nie goed is nie. Dit is omdat ons nie verstaan nie, nie verstaan dat Hy die verlede, hede en toekoms ken en dat Sy tydsberekening perfek is nie. Sy onsigbare Hand is alreeds aan die werk al kan ons dit nie sien nie. Imelda het tot die besef gekom dat sy begin twyfel het omdat sy dadelik ’n antwoord wou hê. Sy moes leer om in die Bybel te gaan soek, nie net na antwoorde nie, maar om die Skepper van ’n duisend miljoen sterrestelsels beter te leer ken — sodat sy Hom makliker kan vertrou. Anton het begin om ’n gebedsjoernaal te hou terwyl hy in ’n langdurige werkskrisis was en die waarde daarvan begin besef toe hy daarin kon terugblaai en sien hoe getrou God hom in vorige situasies ondersteun het en hoedat sommige van sy gebede reeds verhoor is. In die proses het hy krag gekry om geduldig te wag totdat God antwoord. Imelda weer het besluit om ’n paar sleutelverse (wat op haar situasie en haar pad van groei van toepassing is) te memoriseer en dit vir haarself te kwoteer en lofliedjies te sing (selfs net in haar hart) wanneer dinge woes gaan sodat sy net weer haar fokus reg kon kry en sy sonder voorbehoud kan vertrou. “Faith isn’t believing without proof — it’s trusting without reservation.” — William Sloane Coffin