Digitaal op die regte maniere aanwesig
deur Stephan Joubert Die digitale wêreld is op ons. Facebook het teen die derde kwartaal van 2014 reeds 1,35 miljard aktiewe gebruikers gehad, terwyl Twitter 284 miljoen aktiewe gebruikers gehad het. Instagram het teen Desember 2014 aangegroei tot 300 miljoen maandelikse gebruikers. Sowat 14,1 miljard aktiewe epos adresse bestaan teen die einde van 2014, terwyl 11,944 miljard soektogte verlede jaar op Google onderneem is. Om alles te kroon, gaan daar in die volgende 24 uur 188 miljard SMS’e en 144 miljoen epos boodskappe rondgestuur word en 30 miljoen selfoon “apps” afgelaai gaan word. Ook gaan 2 miljard Skype minute opgebruik word. In hierdie nuwe digitale wêreld benodig ons sakke vol wysheid om hier as Jesus se navolgers aanwesig te wees. Dit sluit in goed deurdagte opmerkings en keurige kuiers op die verskillende sosiale media-platforms wat onsself gebruik. Om gedurig hier te kla en te kritiseer, of om ander mense en instansies in hulle “digitale afwesigheid” aan te vat, pas nie by Jesus se navolgers nie. Ons digitale aanwesigheid moet korreleer met wie ons elders in die lewe is. Mooi verhale oor die Here se werk wat ander inspireer is ’n wyse roete op hierdie platforms. O ja, en self-verheerlikende fotos en stories is uit!