top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Is jy ’n geesdrifskepper?

deur Milanie Vosloo Toe hy aan die voordeur klop, het ’n bediende met die naam Rodé kom kyk wie dit was. Sy was bly toe sy hoor dat dit Petrus is. Sy het na binne gehardloop en opgewonde vir almal gesê: “Petrus staan by die deur.“ — Handelinge 12:13-14 In Handelinge 12 lees ons die gedeelte waar Petrus in die gevangenis was en die vervolging van die Christene die gelowiges taamlik swaarmoedig gestem het. ’n Engel bevry Petrus egter wonderbaarlik uit die tronk en toe hy aan die deur van ’n klompie gelowiges klop, is dit Rodé, die diensmeisie, wat die deur wou gaan oopmaak. Met die aanhoor van Petrus se stem, was sy so entoesiasties dat sy onmiddellik na die ander gehardloop het om die nuus te vertel. Toe haar geesdriftige aankondiging met ’n yskoue, “Jy is van jou kop af“ beantwoord word, bly sy met oortuiging opgewonde oor die wonderwerk. Uiteindelik besef die ander met verwonderende verbasing dat Rodé reg is. Tussen ons is daar die entoesiastiese en positiewe mense wat die lewe met geesdrif aangryp en die geesdrifdempers wat altyd wonder waarom die lewe so swaar is. En ja, daar is tye wat ons regtig goeie rede het om afgehaal, moedeloos en selfs depressief te voel. Die verskil tussen positiewe en negatief ingestelde mense lê egter nie in die omstandighede nie, maar in die gesindheid waarmee hulle die lewe benader. Geesdrifskeppers kies om — ongeag dit wat met hulle gebeur — die lewe met ’n verblydende gees te benader. Hulle kyk hul omstandighede in die oë en besluit om die beste van elke situasie te maak. En omdat hulle eenvoudig nie toelaat dat die wêreld se teenslae en ongeluk hulle onderkry nie, het hulle die vermoë om selfs van die slegste omstandighede positiewe geleenthede te maak. Hulle is oplossingvinders en probleemsmoorders; glimlaggende hoopvolles en dankbare vreugdemense! Ons weet almal dat geloof ons nie vrywaar van probleme, frustrasies en swaarkry nie. Tog maak geloof ’n reuse verskil in die manier hoe ons na die lewe kyk. Ons weet immers dat ons onder geen omstandighede alleen is nie omdat ons versorgende Vader net ’n gedagte ver is. Verder leef ons met dié vertroostende wete dat God lankal aan die deur van ons harte geklop het, dat ons Hom binne genooi het en dat Hy ons siele van alle kettings bevry het. Daarom leef ons met verwagting en vreugde en hoop. Vra die Gees om jou menswees van negatiewe gedagtes te bevry en aan jou die vermoë te skenk om elke dag met blydskap en geesdrif te leef in dié wete dat jy ’n verloste met ’n ewige tuiste is — ’n vreugdetuiste sonder weerga! Vader-God, vul asseblief my lewe met u sondevrye skoonheid, heilige heerlikheid en vervullende vreugde. Help my om elke dag te kíés om met oorgawe te leef! Uit: Siel van ’n Vrou, CUM

bottom of page