Alles is vergewe
deur Stephan Joubert Ek sluit graag aan by ’n verhaal wat ek verlede jaar in JUIG tydskrif ook gedeel het: In ‘The Capitol of the World’ vertel Ernest Hemingway die verhaal van ’n seun genaamd Paco wat na ’n woordewisseling met sy pa wegvlug. Die pa soek orals in Spanje na sy kind, maar sonder sukses. Uiteindelik plaas hy in die dagblad El Liberal in Madrid ’n advertensie met die woorde: “Paco, meet me at Hotel Montana. Noon Tuesday. All is forgiven.” Toe daag 800 seuns met die naam Paco op daardie Dinsdagmiddag by die hotel op! Hoe honger is mense nie vir vergifnis nie! God het ons gemaak om te smag na sy hemelse aanraking. Die kerkvader Augustinus skryf tereg in sy outobiografie: “Here, U het ons vir Uself gemaak en ons hart is rusteloos totdat dit rus vind in U!” Daar’s ’n God-nood diep in ons verpak. Ons honger en dors na die Here, al wil ons dit nie aldag erken nie. God gee nooit op met ons nie. Hy hou altyd ons binne sy genade-visier. Die Here ken ons koördinate. Sy hemelse GPS is haarfyn ingefokus op ons doen en late. Jesus is God se Een-Man soekgeselskap hier op aarde. Hy is dag en nag op die hakke van sy Vader se verlore eiendom. Hy is ook op die hakke van God se kinders wat op slegte afdraaipaaie uithang. Wanneer Jesus ons naam en adres het, dan moet ons maar weet: ons kan hardloop, maar nie weghardloop nie. Ons kan vlug, maar nie wegvlug nie. Ons kan kruip, maar nie wegkruip nie. God wil ons naby Hom hê. Hy het ons geskep én herskep vir koinonia, gemeenskap, met Hom en mekaar. Hy het vir ons plek gereed gemaak by Jesus se fees wat tot ’n ewigheid anderkant die dood aanhou. Daarom dat ons om elke hoek en draai in die Bybel hoor: “Alles is vergewe!” Jesus se sterwe in ons plek onderstreep dit met hoofletters. Hy oorstroom ons lewens met genade. Gaan staan met bedelaarshande voor Christus, dan stap jy vry daar weg. Hande vol ewige lewe, oorvloed en genade is dan joune. Nog goeie nuus is dat God nie ’n kwotastelsel vir vergifnis het nie. Ons het nooit so ver geval dat Jesus ons nie kan vang in sy genadegreep nie. Jesus se nuwe vergifnis formule volgens Matteus 18 is sewentig maal sewe. Ad infinitum. Oneindig. Vir altyd en aanhoudend! Hy hou nooit boek as dit by vergifnis kom nie. Hy tel nie hoeveel keer ons Hom al om vergifnis kom vra het nie. Natuurlik het ons nie ’n lisensie gekry om droog te maak nie. Maar as ons wel die slag die pad byster raak, dan kan ons weet Jesus spesialiseer in struikelendes soos ons. Hy bring genadebedelaars se saak voor God graag in die reine. Hy maak die boeke toe. Hy begin elke keer oor en voor. Daarom dat daar soveel dringende notas en “advertensies” regdeur die Bybel wat ons na Christus toe nooi. Hoor asseblief weer: “Alles is vergewe!”