Kyk op, kyk af, kyk agter, kyk voor
deur Stephan Joubert Toe nog iemand iewers na kerk vir my vertel hoe sleg dit gaan in die land, en dat alles brand, toe doen ek dit weer. Ek nooi hom om langs my te kom staan en op te kyk. Half onwillig doen hy dit. “Wat sien oom?” vra ek. “Net mooi niks” sê hy. “Kan ek gou vir oom vertel wat ek sien?” sê-vra ek. Terwyl hy nog wonder, sê ek: “Ek sien die hemele oop. Saam met Stefanus in Handelinge 7 sien ek met my geloofsoog die Seun van die mens aan die regterhand van God. En saam met Johannes in Openbaring 5 hoor ek hoe biljoene der biljoene daar uitroep: ‘Aan Hom wat op die troon sit, en aan die Lam, behoort die lof, die eer, die heerlikheid…’” Terwyl die oom soek vir woorde, sê ek vir hom: “Kyk af, asseblief. Ons voete is geplant op die Rots, Jesus Christus. Hy versper die roete na die ewige dood. Selfs al wankel ons, Hy wankel nooit.” Ietwat oorbluf frons die oom, maar ek gaan voort: “Kyk gou agter oom. Daar sien ek die kruis van Christus. Daar is al ons oortredings vasgekap soos wat Kolossense 2:14 leer. Die lig van die kruis het elke kronkelpaadjie wat ons geloop het uitgevee omdat ons in Christus as Here glo. Sy lig is die lig vir ons pad. “O ja, kyk gou vorentoe,” sê ek terwyl ek omdraai en vorentoe wys. “Hier reg voor ons staan Christus met 'n oorwinningskroon in Sy hand. Hy wink ons nader. Hy het vir ons ewige plek daar by Hom.” Toe kyk ek na die oom en vra hom padlangs of sy oog nie dalk op al die verkeerde dinge gerig is nie. Nee, ons moenie maak asof alles reg is en in ontkenning leef nie, maar ons moet ook nie blind wees vir die splinternuwe wêreld van Christus nie. Saam met Paulus in 2 Korintiërs 4:16-18 moet ons leer uitroep: “my oog is nie op die sigbare dinge gerig nie, maar op die Onsigbare.” So nie, sien ek net moeilikheid; dan verdrink my geloof.