Die keuses van jou lewe
deur Stephan Joubert Vroulief en ek is lief vir “House Hunters International” op die TV. Dit handel oor mense wat moet verhuis na ander plekke op die planeet en dan tussen drie eiendomme moet kies om te huur of te koop. Keer op keer is die rede hoekom mense wil trek hulle eie behoefte aan ’n rustiger lewe. Nêrens in die wêreld is dit anders nie. Amerikaners wil in ’n romantiese Franse dorpie gaan leef, besige Engelse wil in ’n Spaanse kusdorpie tot rus kom en gejaagde Kanadese en Australiërs soek die rustigheid van die Himalajas, of die eenvoud van Kambodja op. Terwyl ek soms hierna kyk, hoor ek derduisende Suid-Afrikaners uitroep: “Ek soek net veiligheid, elektrisiteit en geen korrupte politici nie...” Mense is orals gelukkig en ongelukkig. Of jy hier bly, of daar, of doer — geluk is nie uitsluitlik, of hoofsaaklik, van jou uiterlike omstandighede afhanklik nie. As jy sê Jesus is jou Heer, dan geld ander norme en ander beginsels wanneer geluk en vreugde ter sprake is. Dan definieer jy die sin van die lewe heeltemal anders. Dan kan jy nie eiehandig jou lewenshuis bou en in stand hou en slegs verwag God moet jou bouplanne seën nie. Jou aanstellings-instruksies in God se koninkryk sluit Lukas 14 in. Daar sê Jesus jy moet vooraf die prys bereken of jy Hom wil volg. Hy bepaal die roete, jy volg sonder voorwaardes. Hy deel die beker uit; jy drink dit! Soms loop Christus se roete deur mooi weivelde; ander kere kronkel dit deur die donker. Of dit hier gebeur of daar, is minder belangrik as dat jy daagliks op Christus se roete is. Op die ou end wil ek nie die res van die ewigheid voor God se troon verbyloop as die een wat gedurende my stukkie lewe op aarde gekies het om my eie behoeftes, voorkeure en drome bokant dié van Hom te stel nie. Hy bepaal die inhoud en kwaliteit van my keuses. As God se regte roete vir my dan ook ’n lydingsbeker moet insluit, dan drink ek dit met God se hulp.