Omgee in Grieks
- Feb 2, 2015
- 2 min read
deur Stephan Joubert Tyd vir ’n bietjie Grieks. Hier kom dit: splagnitsomai. Reeds in die 8ste eeu voor Christus is hierdie woord al gebruik. Splagnitsomai verwys na die roering van mens se ingewande. Dit hou veband met daardie diep innerlike saamvoel met ander. Diep medelye, dus! Hoekom hierdie Griekse les? Wel, omdat Jesus gereeld diep innerlike roerings beleef het wat die evangelies met die woord splagnitsomai beskryf.
As die melaatse in Markus 1 pleit om genesing, splagnitsomai Jesus (vir Griekse kenners: ek gebruik nie die tegnies-korrekte werkwoord vorm in elke geval hieronder nie). Dan gaan sy omgee oor in hulp.
As die weduwee in Nain se dooie kind op Jesus se radar is in Lukas 7, maak sy splagnitsomai, sy medelye, dat Hy hom gaan haal uit die doderyk.
As die 2 melaatses om genade smeek in Matteus 20, splagnitsomai Jesus en laat hulle sien.
As Jesus die groot skares in Matteus 14-15 sien wat honger is, lei sy splagnitsomai, sy medelye, tot leringe en kos om hulle honger te stil.
In die gelykenis van die verlore seun in Lukas 15, vertel Jesus van die Vader se hart vol omgee wat maak dat Hy na sy kind hardloop en hom met oop arms terug verwelkom.
As die Samaritaan in Lukas 10 die verwonde aan die oorkant van die pad sien, maak sy splagnitsomai dat hy die pad oorsteek en gaan help.
Jesus se hart is een van omgee. Hy voel diep. Hy ervaar intens. Dit lei altyd tot die regte dade van redding, genesing en nuwe lewe. Die Vader se hart is ook een oorvol met omgee. Dit maak dat Hy sondaars tegemoet hardloop. En dan: diegene wat by Jesus ’n hartoorplanting gekry het se harte is ook vol omgee. Hulle woorde het ook spasie vir dade, Jesus se soort! Ken jy splagnitsomai in jou lewe?

Comments