Ek het my werk verloor! Wat nou?
deur Alet Gardner Wat die slim mense sê oor die impak van werksverlies op ’n mens se psige, gaan so maklik by ons verby totdat die ramp my tref en ek ook my werk verloor, hetsy deur regstellende aksie of aflegging of onbillike ontslag. Skielik het ek my identiteit verloor, het ek nie meer rede om soggens op te staan en werk toe te gaan nie, het ek nie meer struktuur aan my dag nie. Wie is ek? Hoekom het dit met my gebeur? As ek my eie besigheid gehad het, en dít in die slag bly, is die impak nóg groter — dis nie net my inkomste wat daarmee heen is nie, maar ook al die geld wat ek in die besigheid belê het, jarelange energie wat ek daarin uitgestort het, my identiteit wat soveel meer met my werk verweef geraak het. Daar is personeel, kliënte, krediteure, my gesin wat hierdeur geraak word. In my pyn en teleurstelling voel dit so maklik asof familie en vriende nie omgee nie, nie wil help of ondersteun nie. Hulle weet dalk net nie hóé nie. Ek moet onthou dat God self belowe het om ons nooit, nooit, nooit te verlaat of in die steek te laat nie. (Drie–dubbele negatief in die oorspronklike Hebreeus, Hebreërs 13:5) Ek staan nie alleen voor/langs/midde–in hierdie enorme uitdaging nie. Jesus ís by my, spreek my sag en liefdevol op die naam aan, het al die antwoorde, is die Outeur van die krag, liefde, vrede, vreugde wat ek nodig het. Dit is soveel te meer belangrik dat ek nou tyd in God se teenwoordigheid deurbring met gebed en Bybelstudie. Dan kan ek soos Moses sy lig absorbeer en nie net weerkaats nie, maar behoorlik gloei–in–die–donk—er. So kan ek in hierdie gebroke wêreld met sy speedwobbles en teëspoed ervaar dat God deur dit alles onveranderlik bly: getrou, regverdig, genadig, liefdevol. Hoe moes Josef nie getwyfel het hieraan toe hy in die put was en later in die tronk nie. Maar God het heeltyd geweet wat die uitkoms sou wees, wat sy plan hiermee was. So is Hy ook besig om my as sy kind te vorm en af te rond én uiteindelik te gebruik vir die welsyn van baie ander, hetsy deur my voorbeeld, direkte inspraak in ander se lewe, of ’n posisie van invloed of oorvloed waarmee ek vertrou mag word. Omdat ek weet dat “God is able to do immeasurably more than we can ask or imagine,” kan ek kies om God se teenwoordigheid IN die situasie te bevestig met ’n loflied in my hart en op my lippe — heeldag deur. Ek kan dit waarmee Hy my bemoedig het, op my foon of tablet of in my dagboek vaslê sodat ek deur die loop van die dag daaraan herinner kan word. En alles wat ek dan bou, my hele lewe, word deur God se teenwoordigheid geheilig, sodat sy Naam daar vereer sal word. Daar waar ek op pad is, waar ek werk, waar ek mense ontmoet, is die plek waar ek getuig — met of sonder woorde. Soos met enige lewensverbryselende ervaring, staan ek nou by ’n nuwe begin. Ek hoef nie die onbekende te vrees nie, want die Here self is by my — en Hy kan ook dit vir my ten goede laat meewerk (Romeine 8:28) My troos, my anker in hierdie tyd van groot teleurstelling: Hulle wat u gebooie liefhet, het groot sekuriteit en niks kan hulle laat struikel nie. — Psalm 119:165