Stap net ’n slag oor die straat!
deur Stephan Joubert Op 16 Januarie berig De Telegraaf, een van die groot Nederlandse koerante, dat ateïste in daardie land vir die eerste keer gelowiges verbygegaan het wat getalle betref. 25% van die Nederlandse bevolking beskou hulleself nou as ateïste, terwyl net 17% in die bestaan van God glo. Verlede jaar, terwyl ek daar in Nijmegen by die universiteit klas gegee het, het ek in die pers gelees dat daar tans 100 kerkgeboue per jaar verkoop word. Nou ja, ons kan hieroor huil en ons koppe skud, maar feit is kerke is aan die krimp. In die VSA skryf Thom Rainer in sy boek: “I Am A Church Member: Discovering the Attitude That Makes the Difference” (2013) in die lig van navorsing in 557 kerke tussen 2004 tot 2010: “Nine out of ten churches in America are declining or growing at a pace that is slower than that of their communities.” Die Suid-Afrikaanse kerklike toneel lyk nie anders nie. Wat staan ons te doen in hierdie tyd? Wel, ons kan saam met Job op ’n ashoop loop sit en onsself jammer kry. Of ons kan klippe gooi in ander se rigting. Of die kerklike stof van ons skoene afskud en in ons eie geestelike bunker loop wegkruip. Of ons kan die Jesus roete volg en die straat oorsteek! Ja, presies dit! Ons is geroep om op die jammerhartige Samaritaan van Lukas 10:25-38 se roete te leef. Ons het nie die luukse van die priester en die leviet om anderkant verby te loop as gewondes orals rondlê en die wêreld donker word nie. Dan is dit staat-oorstap-tyd. Ons leer by die Samaritaan:
Om ’n hart vol medelye te hê vir diegene met wie ons paaie kruis, maak nie saak wie hulle is; wat hulle glo, of hoe hulle lyk nie.
Om ons dagboek te onderbreek wanneer die Here ander mense op ons radarskerm plaas.
Om ons geld, ons kos en ons tyd met ander te deel en ons hande vuil te maak met hulle seerkry en bloed.
Aan die oorkant van die straat is daar lewe. Elke Samaritaan wat daar rondloop, maak ’n lewensgroote verskil. Elke Samaritaan aan daardie kant bewys die statistiek hierbo op magnetiese maniere verkeerd. Elke Samaritaan aan die oorkant is veels te besig om vir Jesus te leef om nog te verwyt, klippe te gooi, te kritiseer of fout te vind. Hulle leef elke dag volstoom op die Jesus-roete.