Salf vir seerkry-siele
deur Milanie Vosloo ... julle hoef nie meer te huil nie. Die Here sal julle help as Hy hoor julle roep na Hom en vra vir sy hulp. Hy sal julle gebede verhoor die oomblik wat Hy dit hoor. — Jesaja 30:19b Het jy al gevoel dat iets of iemand jou só seer gemaak het, dat jou hart in repies sny? Sulke dolk-in-die-hart-ervarings is dikwels eensame tye wanneer ons verlate van God en mens voel. Seerkry is en bly séér! Daarom wil ons ons pyn en swaarkry ten alle koste vermy: hetsy dit ons eie of ander se stukkendwees is. Onverklaarbare en aanhoudende pyn kan ons ook soms aan God se liefde laat twyfel: Dis so asof ons nie kan en wil glo dat ons dierbare Vader toelaat dat sy kinders se harte bloei en stoei nie. As jy in jou seerkry soms twyfel aan God se alwysheid en genade, is jy nie alleen nie. Menige geloofshelde het al in emosionele tye met God geworstel of selfs van Hom af weggehardloop. Moses ervaar die pyn van opstandige en ontroue volgelinge, die arme Job en sy vriende sukkel kliphard om God se goedheid in sy verlies te sien en ook Paulus smeek God ‘n paar maal om die pynlike doring uit sy vlees te haal. En dan dink ons aan Maria — Jesus se ma — wat jonk en onervare moes hoor dat sy swanger is; wat later verward en stom moes beleef hoe haar Jesus-kind deur mense verwerp en gespot word en ... uiteindelik magteloos moes toekyk hoe Hy aan die kruishout sterf. Dís pyn! By haar en al hierdie geloofshelde leer ons een ding: Hulle het — ongeag hul pyn — God se doel met hul lewens sonder huiwering aanvaar. Hulle het — ten spyte van onverklaarbaarhede, onwrikbaar blý glo dat hulle God onder alle omstandighede vertrou kan word. God verstaan ons sielesmart. Hy het ook begrip daarvoor dat ons juis in sulke tye met die lewe én met Hom stoei. Maar God is God. Daarom weet Hy soveel meer as ons, sien Hy ‘n duisend myl verder en gee Hy, ook in ons pyngeroep, antwoorde op sý tyd en sý manier. Heel dikwels sien ons eers jare later hoe sinvol en “nodig” ons seerkry tóg was. Onthou dus, liewe vrou, dat:
jou Vader elke stoei-en-seer-sielstryd met deernis verstaan;
Hy jou áltyd met die donskombers van sy genade toevou; en
Hy jou nóóit uit sy hand sal laat val nie. Hy het jou net té lief!
Dra vandag die woorde van Julia Norwich saam met jou: In sy liefde beklee Hy ons, omvou Hy ons en omhels Hy ons; hierdie tere liefde omring ons volkome om ons nooit weer te verlaat nie. Here Jesus, help my om U onder alle omstandighede volkome te vertrou en dwarsdeur alles my geloof te behou. Uit: Siel van ʼn Vrou, CUM