top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Help dit om te bid?

deur Stephan Joubert “Help dit om te bid?” Hierdie vraag is deesdae so gewild dat dit dalk ’n vroeë gunsteling vir 2015 se vraag van die jaar moet wees. Wel, help dit? Miskien moet ons ’n ander roete aandurf, want nie alle vrae is noodwendig die regte vrae, of selfs goeie vrae nie. Vat maar die volgende ene: “Help dit om motor te bestuur, want daar so baie ongelukke?” Of hierdie een: “Help dit om vriende te hê, want daar is so baie vals vriende?” Ons vrae kort altyd ’n vergrootglas! ’n Beter roete tot daardie “help dit om te bid” vraag, is om nie oorhaastige antwoorde in plek te hê nie, maar om die vraagstellers met ’n paar vars vrae te dien. Ek praat van vrae soos: “Wat is jou verwagtings van God en van gebed?” “Sien jy God as die Een wat altyd moet regstaan met ’n antwoord wanneer jy Hom vra, en presies ook soos wat jy voorskryf?” Ook sou ek wou weet of die vraagstellers besig is om God met oorgawe te dien. God Self waarborg antwoorde op gebed, maar dan vir diegene wat in Christus bly, soos wat Jesus in Johannes 15:7 sê. Hy sê met name dat as ons in Hom bly soos die takkies van ’n wingerdstok en getrou doen wat Hy vir ons sê, dan kan ons vra net wat ons nodig het om getrou aan Hom te bly, en ons sal dit ontvang. Met ander woorde, dit gaan nie oor ons nie, maar oor God. Verhoorde gebede is gebede wat God se eer voorop stel en Hom verheerlik! Jakobus 4:1-3 herinner ons dat onverhoorde gebede die resultaat is van biddeloosheid, selfsug en gierigheid. Ons moet bid, MAAR ons moet reg bid. Ons gebede moet God se eer voorop stel. Anders is ons maar net godsdienstige verbruikers (misbruikers?) van God se genade. Vanuit hierdie Bybelse raamwerk kan en moet ons die vraag beantwoord: “Help dit om te bid?” Ja, want God is die Hoorder van gebed, soos wat Psalm 63 sê!

bottom of page