Die jongste misdaad slagoffer
deur Stephan Joubert Toe hy die jongste misdaadslagoffer sien lê aan die anderkant van die pad, het hy dadelik gaan help. Ek praat van die Samaritaan in Jesus se gelykenis in Lukas 10. Die priester en die leviet het egter aan die veilige kant van die pad gebly. Hulle was maar net diep geskok. Dalk het hulle selfs ’n noodvergadering van godsdienstige bymekaar geroep om hulle skok oor die “toestand” in die land uit te spreek. Maar dit was ondenkbaar om oor die straat te stap en te gaan help. Dit sou beteken dat hulle hul oorvol dagboeke moes onderbreek en hulle hande onrein maak met die bloed van ’n vreemdeling. Die Samaritaan het wel gekies om dit te doen. Hy het Jesus se kant van die pad gevat. Hy het saam met Jesus oorkant die straat gaan leef en loop. Vandag nog loop Christus aan die gevaarlike kant van die pad rond tussen misdaadslagoffers en stukkendes. Miskien loop ons Jesus mis omdat ons Hom net tussen die voorspoediges en suksesvolles soek. Hy is daar ook, maar net so is Hy aan die anderkant van die straat of buurt. Ons moet Hom maar net inloop en begin doen wat Hy doen, naamlik om te help en om te gee.