Jou hart se huldeblyk
deur Milanie Vosloo Hy sal vir julle sorg deur vir julle te gee wat julle nodig het. Dit sal Hy doen omdat julle aan Jesus behoort. Al die eer en respek en belangrikheid in hierdie wêreld is God s’n, vir ewig en altyd. So is dit en so sal dit wees. — Filippense 4:19-20 Dankbare mense is vreugdemense. Dis die sout-van-die-aarde-engele wat uit enige situasie iets kan haal om voor “Dankie“ te sê. Ons ander, wat geneig is om die ánder kant raak te sien en daaroor te kla, kyk met bewondering na hierdie uitsonderlike glimlag-persoonlikhede. Miskien moet ons vir mekaar sê dat ’n dankbaarheidmens nie ’n gene-kwessie is waaroor ons geen beheer het nie, maar dat dit ’n aangeleerde eienskap is wat elkeen van ons kán hê. Ja, dankbaarheid is een van daardie goeie gewoontes wat almal kan aanleer en uitleef. Staan vandag vir ’n oomblik stil by al jou redes-tot-dankbaarheid. Dink aan al die vanselfsprekende dinge, mense, voorregte in jóú lewe: Die kosbaarhede wat so maklik by jou verbygaan ... sonder dat jy die vreugde daarvan besef, indrink en waardeer. Dink en sê vandag en élke dag van die jaar “Dankie“ vir die gewóne en alledaagse dinge sowel as die buitengewone wonderwerke:
Sien die wisseling van seisoene weer raak en ervaar die vreugde van afwisseling en verandering in jou lewe.
Hoor die uniekheid van die verskillende voëls se roep en dink weer hoe ontsagwekkend elke natuurwonder is.
Dink aan elke oggend wat jy uit ’n warm bed opstaan om jou dagtaak te kan verrig.
Besef opnuut hoe kosbaar jou gesondheid, elke ledemaat en al jou sintuie is.
Sê sommer net weer dankie vir voorsiene lewensmiddele soos die brood, botter én konfyt op jou tafel.
Waardeer elke méns wat jou pad kruis: hoe gering of groot hul invloed ookal op jou lewe is.
Koester die feit dat jy jou unieke vróúwees op soveel verskillende maniere kan geniet en uitleef.
Onthou weer dat God jou onverpoos op jou lewenspad lei en raak weer bewus van die goedheid-seën wat Hy so gereeld oor jou stort.
Belééf sommer net weer die magiese, stil oomblikke in die teenwoordigheid van sy Gees.
Vandag het God vir jou die geskenk van 86 400 sekondes gegee. Het jy een van hulle gebruik om vir Hom dankie te sê?, het William Arthur Ward gesê. Leef dankbaarheid en beleef hoe uitsonderlik jou lewe skielik voel. Dankie Here, vir elke klein en groot vreugde in my lewe. Dankie vir Ú. Dankie vir ’n léwe! En ’n ewigheid. Uit: Siel van ’n Vrou, CUM