top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Veilig, onveilig, veilig...

deur Stephan Joubert In my kinderdae het ek en my oupa eendag op hulle rooi gepoleerde stoep gesit en koffie drink toe hy skielik sê: “My kind, die einde is naby.” “Hoekom sê oupa so?” wou ek weet. “Sodom en Gomorra is op ons,” antwoord hy. “Waar’s dit?” wou ek dadelik weet. “Dis daar in Pretoria en Johannesburg waar julle bly,” antwoord hy. Toe drink ons maar in stilte verder ons koffie. Verlede Donderdag loop my oudste dogter en haar man in Parys se strate rond. Dit was hulle blaaskans op pad huistoe na ’n studie–toer in Holland. Toe breek groot chaos naby hulle los toe twee gemaskerde manne die Charlie Hebdo Tydskrif se kantore bestorm en 12 mense wreed doodskiet. Sommer so, in ’n eerste–wêreld stad. “Waar’s mens ooit veilig?” vra my kinders na die tyd. Goeie vraag. Nêrens... en orals! Presies so! As tydelike sekuriteit en persoonlike veiligheid ons vernaamste behoeftes is, gaan ons nooit genoeg hiervan hê nie; nêrens nie. Dis amper soos wat die Prediker oor geld skryf: “Die een vir wie geld alles is het nooit genoeg nie!” (5:10). Nog hier, nog daar, nog doer is ons gerief of voorspoed ooit gewaarborg — dis nou te sê, as ons dit meet soos die meeste mense op aarde. Daarom kort ons ’n nuwe meetinstrument, Christus S’n.

  • Sy waarborg: “Ek is by julle, al die dae tot aan die einde” (Matteus 28:20).

  • Sy gebed vir ons: “Vader, Ek bid nie dat U hulle uit die wêreld wegvat nie, maar dat U hulle van die bose bewaar” (Johannes 17:15).

  • Ons uitdaging: Om die drie–enige God as ons enigste Rots en Vesting te sien. Saam met Hom loop ons bendes storm en spring ons oor hoë mure (Psalm 18:29).

bottom of page