Lees, leer, leef
deur Stephan Joubert Bybeluitleg is op ‘n laagtepunt in ons dag. Meeste mense soek heeltemal te kortpaaie as hulle met die Bybel besig is. Hulle “kry” Skrif, of iemand “gee” vir hulle Skrif, en dan ignoreer hulle die res. Skrifkry is gelyk aan een of twee tekste wat die uit die Woord verwyder word en dan spesiaal vir persoon A of B gegee word. Nou ja, God praat deur Bybelverse ook. Maar Hy het die hele Woord aan ons gegee in verhaalvorm, en ook in ‘n paar ander stylvorms. God praat nie maar net in losstaande frases, sinne of verse nie. As ons dit nie respekteer nie, dan hoor ons God verkeerd. Daarom dat die woorde van Eugene Peterson my so aangryp. Hy skryf iewers: “Exegesis is loving God enough to listen carefully to what He says.” Goeie uitleg van die Woord vra toewyding en harde werk. Maar die beloning is hemelse goud werd! Om ernstig en aanhoudend met die Bybel op reis te wees, is om dieper in die skatkamers van die Allerhoogste ingenooi te word. Oordink dit dag en nag soos wat Psalm 1 ons leer. Doen dit en groei!