Ouderdom
- Jan 1, 2015
- 1 min read
deur Stephan Joubert Die gemiddelde 25–jarige kan verwag om ’n hele 2.4 jaar langer goeie gesondheid te geniet as 20 jaar gelede. Op hul beurt kan 65 jariges verwag om nog 1.7 gesonde jare te hê — iets wat nie ’n paar jaar gelede die geval was nie. So bevind ’n onlangse studie aan die Mediese Fakulteit van die Universiteit van Massachusetts. Mense word ouer omdat mediese en sosiale dienste verbeter. In gewone taal beteken dit dat jy op jou “oudag,” nie so oud gaan wees soos wat dit ’n paar jaar gelede was nie. Aftrede beteken jy hou dalk op om jou voltydse beroep te beoefen, maar daarna breek die tweede helfte van jou lewe eintlik aan. Die Here het jou gemaak om te leef totdat die laaste greintjie suurstof eendag uit jou longe is. Die keuse is joune hoe jy dit doen. Om elke dag styf aan God se hand vas te hou en om daagliks te lag en ander te dien, is goeie keuses wat ewige diwidende oplewer. Om elke dag ’n beker of twee koue water (of koffie!) in Christus se Naam uit te deel, is net die soort ding om te doen om ouderdom ook in trurat te dwing. En om boonop die regte verskil tot eer van God te maak.

Comments