top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Familie verhoudinge

deur Marietjie Joubert 2 Samuel 15:30 Ons het almal al een of ander tyd met die familie vasgesit. ’n Mens stry met die kinders, of familie verhoudinge versuur. Die ongelukkigheid wat daarmee saamgaan is nie lekker nie en baie keer is dit net ’n “Jammer” wat in die plek van die vrede staan. Ongelukkigheid in die gesin of familie maak die lewe onaangenaam. Ons moet waak en keer dat dit gebeur. Dawid, en Absalom, sy seun, het slegte verhoudinge gehad. Dawid was so bang vir sy seun dat hy uit die stad gevlug het. Hy was bang sy eie seun maak hom dood. Dit is ’n vir my ondenkbaar. Ons moet waak en keer dat sulke dinge nooit in ons gesinne gebeur nie. As ouers en volwassenes in die verhouding, moet ons deurgaans probeer om verhoudinge so te hou, dat dit aanvaarbaar is in God se oë. Dit wat ons by ons ouers leer van respek, vergewe en voor begin, is wat ons moet doen. As volwassenes is dit ons plig om dit ook vir ons kinders te leer. Die beste voorbeeld wat ons kry van ouer- kind verhoudinge, is Jesus self. By Hom en die Vader word ons daagliks vergewe vir al ons verkeerde dade en woorde. God vee dit uit en dink nooit weer daaraan nie. Hy begin elke dag nuut met elkeen van ons. Ons bid en vra vergifnis en Hy gee dit aan ons. Wie is ons dan om nie te vergewe nie. In vandag se deurmekaar lewe, het kinders ons goeie voorbeeld nodig. Kinders moet weet ons is lief vir hulle en vergewe hulle as hulle verkeerd gedoen het. ’n Stabiele ouerhuis en baie liefde is die grootste erfenis wat jy vir jou kinders kan gee. Wanneer ouers mekaar met liefde en respek behandel, sien die kinders dit en leef hulle met ’n opregte voorbeeld wat hulle kan navolg. Ouers moet ook kan sê hulle is jammer as hulle onredelik met die kinders was. So leer kinders weer om te sê hulle was verkeer. As ons as gesinne en families liefdevol en met respek teenoor mekaar leef, sal ons kinders leer by ons en ook so doen. So leef ’n geesvervulde gesin. Gebed Here, gee dat ons ware opregte voorbeelde vir ons kinders sal wees, vol van U liefde en vergifnis. Amen

bottom of page