top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Gebruik jou tyd beter

deur Stephan Joubert Ek lees iewers dat as jy 70 jaar oud word, dan sou jy jou lewensjare as volg gebruik het:

  • 23 jaar lank geslaap; 14 jaar gewerk; 8 jaar voor die TV; 6 jaar geëet; 4 jaar op reis; 4 jaar in gesprekke; 1 jaar gewy aan leeswerk.

  • O ja, as jy elke Sondag kerk toe gegaan het, en elke oggend en aand vir 5 minute gebid het, dan het jy ‘n volle 5 maande uit die 70 jaar hieraan spandeer.

Vyf maande uit 70 jaar? Lyk my dis die winskoop van die jaar om te glo, want dit kos ons amper niks nie - hoogstens vyf maande uit sewentig jaar van ons lewe in terme van aktiewe godsdienstige diens! Helaas kos dit vir die meeste mense nie eens naastenby so baie nie. Ek meen, dis nie asof die meeste mense wat hulleself Christene noem elke Sondag op hulle pos is in die kerk of vyf minute per dag aan gebed wy nie. Wil jy nie hier teen die einde van 2014 besluit om jou tyd meer effektief te benut nie? Soos wat jy weet vlieg die tyd. Dis kosbaar. Ons moet dit uitkoop, soos wat Paulus vir die Efesiërs skryf, anders mors ons ons tyd. Die belangrikste stap tot effektiewe tydsbenutting is om die regte geestelike dissiplines in jou lewe in te bou en daarby te hou. Nou ja, dis regtig nie te veel gevra om die oujaar af te sluit en 2015 te begin met ’n nuwe gebedsroetine nie. ’n Vars en meer lewenskragtige geestelike lewe gebeur aan die hand van die regte geestelike dissiplines. In gewone taal gesê, dit gaan oor die daaglikse buig van ons knieë voor die almagtige God en oor die gereelde saamwees met ander gelowiges by samekomste waar ons geloof opgebou word.

bottom of page