top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Ewigheidsgeskenke

deur Milanie Vosloo God het bewys hoe lief Hy die wêreld het. Hy het sy unieke Seun na die wêreld toe gestuur sodat elkeen wat in hierdie Seun glo, nie verlore sal gaan nie, maar vir altyd saam met God kan leef. Johannes 3:16 Desember is vir ons as gelowiges so ’n ékstra-bekoorlike maand: Dis dié maand waarin ons weer die grootste Geskenk van alle tye se verjaardag herdenk. Dié maand waarin ons hart sommer weer van vreugde sing oor ons Heiland se geboorte en die verlossing wat dit vir ons gebring het. Een van die lekkertes van dié tyd van die jaar is natuurlik ook die uitsoek, opmaak en géé van geskenke. Dis mos juis dan wat ons sommer net weer beleef dat dit regtig soveel saliger is om te gee as om te ontvang. Dit is ook die tyd van die jaar wanneer ’n mens weer opnuut besef hoe groot die Geskenk was wat ons in ons Verlosser ontvang het en dié Gawe ons weer met dankbaarheid vul. Dit is wanneer mens soms wonder wat ons vir Hóm teruggee. In Heeltyd by God *, skryf ek: Saam met die koop van kersgeskenke wonder ek wat ek hierdie Kersfees vir Ú kan bring. ’n Goudblink toegedraaide pakkie vol ... wat? Hier staan ek met my leë hande: Al wat ek het, is my gelapte gedagtes, krom woorde en gebroke hart. Sal U dit asseblief neem en omtower in ’n sneeuwit lewe toegedraai in suiwer kristal waarin u heerlikheid heeljaar weerkaats? Hier staan ek, Jesus, neem my. Kom ek en jy besluit om die heeljaar Kersfees te maak deur ewige geskenke aan ander en aan God uit te deel: Geskenke soos die goud, wierook en mirre van ons harte:\

  • Gee aan jou Vader elke dag suiwer goud: die edel en vlekvrye aanbiddingsliefde van jou hart.

  • Versprei die heerlike geur van jou onvoorwaardelike omgee-liefde soos wierook aan almal in die wêreld.

  • Bederf jou ook met die welriekende mirre van onvoorwaardelike aanvaardingsliefde vir jouself.

Deel hierdie drie pakkies: goud vir God, wierook vir die wêreld en mirre vir jóú menswees sommer elke dag van die jaar mildelik uit. Jy sal vind dat jou siel heeljaar feesvier! Ja, Here Jesus, hier is ek net soos ek is. Salf my en omskep my in goud wat soos wierook versprei. * Uitgegee deur Lux Verbi BM. Uit: Siel van ʼn Vrou, CUM

bottom of page