Wanneer die hemel oorstroom
deur Stephan Joubert
Wanneer die hemel oorstroom, dan lek dit alles op die aarde uit; dan reën dit seën! Presies dit het 2,000 jaar gelede gebeur toe hemel hier tussen ons aangeland het. Toe Jesus in Betlehem gebore is in ’n voerbak vir diere, het ware lig die donkerte binnegeval. Toe het strome lewende water die woestynlandskap getref. God se liefde kan nooit tot die hemel ingeperk word nie. Dit moet uit; dit moet die wêreld vol vloei. Sy liefde moet eenvoudig uitmond in ons stukkende wêreld.
Jesus se koms is lofliedere-materiaal. Engele kan nie ophou sing oor God se vrede wat die aarde getref het nie. Ook kan die herders nie ophou jubel oor die Christus-Kind nie. Elkeen wat Jesus raakloop se taal verander. Lof ontplof! Hooploosheid word ingeruil vir vrolike musiek. Dank is aan die orde van die dag in die lewe van elkeen wat hierdie hemelse oorstroming beleef. Terloops, hierdie oorstroming rig nie skade aan nie. Inteendeel, dit verdryf juis al die skade wat die sonde en dood aangerig het in ons wêreld. Jesus se koms is presies waaroor die hemelse oorstroming gaan. Hy is die hoop vir ons wêreld. Hy maak al die hemelse verskil hier op aarde. Sy koms is ons enigste hoop. Ons geloofsoog is eksklusief op Hom gerig. Steeds oorstroom sy genade en goedheid ons lewe. Aanhoudend beleef ons dat die Christus-Kind ook die Here van ons lewe is. Onophoudelik sing ons saam met die engele dat God se vrede hier is vir ons elkeen wie Hy so eindeloos liefhet. Ons leef in sy nimmereindigende seën-reën.