Het jy ’n plan?
deur Stephan Joubert
Almal wil die wêreld verander. Almal wil hê dinge moet anders wees. Tog het min mense ’n plan. Diegene wat wel planne het, voer dit selde deur. Iets meer is nodig as net om oor goeie planne te beskik. Ek praat van ’n verhouding met Iemand so groot dat jy bereid is om jou hele lewe eksklusief onder sy heerskappy te leef. Nog altyd het daardie klein groepie mense wat die regte soort impak maak agter Iemand aangeloop wat groter is as al hulle drome en ideale. Ek praat van Christus. Diegene wat Hom volg, het geleer om hulle eie planne in te ruil vir Syne. Sy plan om God se koninkryk orals op aarde te laat inbreek, het hulle daaglikse agenda geword. Jesus se hartseer oor al die donkerte in die wêreld het ook hulle las geword. Sy opstand teen godsdienstige skynheiligheid het hulle eie ontevredenheid geword. Sy hoop vir nuwe gemeenskappe waar God se geregtigheid en liefde wen, het hulle lewenslange padkaart geword. Jesus het immers sy hart oorgeplant in diegene wat in sy Naam die wêreld anders leef, kyk, doen en praat. Sy hart klop in elkeen wat God se planne ken en doen.