Geloof maak nie van jou ’n beter mens nie
deur Stephan Joubert
Geloof is nie ’n self-verbetering program nie. Geloof se doel is ook nie om van jou ’n beter mens te maak nie. Dit doen selfhelp programme. O ja, en godsdiens. Godsdiens wil jou deel van ’n vroom sisteem maak waar jy jouself onttek van “hulle” wat verkeerde dinge doen en wat nie godsdienstig nie. Godsdiens skep ’n “ons versus hulle” wêreld. Dit skep ’n sisteem van reëls en regulasies waar mense gedurig gemeet word aan hulle gehoorsaamheid aan uiterlike voorskrifte, wette en seremonies.
Geloof in die lewende God gebeur anders. Dit gebeur verhoudingsmatig. Geloof laat jou inderdaad anders leef, maar dit gebeur altyd vanuit jou verhouding met Christus. Geloof in Hom maak jou nooit werklikheidsvreemd of veroordelend nie. Geloof in Hom laat jou afstand doen van jou selfsugtige manier van leef. Jesus se roete is immers dié van nederigheid, opoffering en diens.
Geloof help jou niks as jy bloot net wil beter voel oor jouself nie. Of as jy net so nou en dan kits-hemelse hulp benodig terwyl jy voortgaan met die najaag van jou eie begeertes nie. As jy nie leer om afstand te doen van jou selfsug en jou tydelike behoeftes aan sekuriteit en mag nie, gaan jy teleurgesteld wees met Christus. Geloof wat nie lei tot onselfsugtige navolging van Hom nie, is godsdienstige oëverblindery. Hy het gekom om jou lewe ryk te maak met sy nabyheid en sy vreugde. Moenie Jesus dus verwar met selfverbeteringsprogramme, blink kersgeskenke, en ’n voorspelbare lewe nie. Die doel van jou geloof in Hom is nie om van jou ’n beter mens te maak nie maar om jou tot eer van God en tot seën vir ander te laat leef. Volg Christus op sy terme, dan is die hemele bokant jou oop.