top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Gee weg

deur Stephan Joubert Verseker moet ons linkerhand en regterhand nie van mekaar weet as ons goed doen in Jesus se Naam nie. So leer Jesus ons in Matteus 6. Tog hoor ons ook in Matteus 5 dat ons lig so helder voor die mense moet skyn dat hulle God sal raaksien en Hom verheerlik. Lyk my, Jesus bedoel ons moet weerkaatsers van God se eer wees in die publiek, nie absorbeerders van erkenning en persoonlike eer nie. As ons eer soek vir onsself, dan steel ons God se eer. Aan die ander kant, as ons opreg getuienis aflê oor groot dinge wat Hy doen en al die eer aan Hom gee, soos wat Paulus ons leer in Kolossense 3:16-23, dan skyn Sy lig helder! Van God se groot dade gepraat — in die afgelope weke het ek beleef hoedat God mense in ekerk se bediening stilweg oprig om andere te seën wat in die voorste loopgrawe vir die Here diens doen. ’n Leraar wat met min inkomste oorleef, het onder andere op ons radarskerm beland. Sy gesondheid was onder druk en hy moes verlof neem. Die probleem: hy kon dit nie bekostig nie. Onbetaalde verlof was die enigste opsie. Toe lei die Here dat ’n klompie dae se “onbetaalde verlof” aan hom geskenk word sodat hy God se goedheid kon beleef. In dieselfde tyd het ’n jong egpaar op die radarskerm beland wat die Here van harte dien onder uitdagende omstandighede. ’n Nuwe motor is stilweg die afgelope week by hulle afgelaai, te danke aan mense wat hulle fondse in die Here se saailande gesaai het. Hoe goed is God nie! Die uitdaging is dat ons almal saaiers in die Here se saailande sal wees. Ons almal het iets om te gee. Selfs die armstes moes in Lukas 3 by Johannes die Doper hoor dat hulle een stel klere kan deel as hulle oor twee stelle beskik! Ons gee onsself altyd eerste aan God en dan aan ander (2 Kor 8:5). Waag dit en leef!

bottom of page