top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Diskriminasie, die onreg van ons tyd

deur Luther Backer God het voorsien dat ’n paar eeue gelede ’n groot verskeidenheid volkere ’n lewe kom soek het hier aan die Suidpunt van Afrika. Alhoewel hierdie volkere baie van mekaar verskil het en steeds verskil, is ons bedoel om mekaar te aanvaar soos wat ons is, om mekaar se lewens te verryk en mekaar aan te vul en te versterk en mekaar met liefde te behandel soos wat God vir ons almal lief is. Maar tree ons werklik met liefde teenoor mekaar op? Om enigsins iets wys te word van ons liefde vir mekaar of die gebrek daaraan, kan ons kyk na die voorkoms van diskriminasie in ons samelewing. Wat beteken die term “diskriminasie”? In die Oxford Verklarende Woordeboek word “diskriminasie” beskryf as “om iemand anders as ander te behandel” of “om iemand anders in diskrediet te bring”. 16 Gronde van diskriminasie insluitende ras, geslag, ouderdom, taal, godsdiens, gewete en geloof word in Suid-Afrika gereguleer deur Die Wet op Gelyke Indiensneming, Die Wet op Bevordering van Gelykheid en die Voorkoming van Onbillike Diskriminasie, die Wet op Arbeidsverhoudinge en Artikel 9 van die Grondwet. ’n Mens sou dink dat hierdie omvangryke anti-diskriminasie wetgewing ’n afskrikmiddel sou wees om teen ’n ander persoon te diskrimineer en dit tot ’n dramatiese afname in die voorkoms van diskriminasie in ons samelewing sou gelei het. Ons moet egter in skaamte erken dat ons houding jeens mekaar steeds gekenmerk word deur ernstige voorkoms van diskriminasie. Elkeen van ons moet ernstig tot die Here bid om ons die sonde van diskriminasie te vergewe, in besonder rassediskriminasie waaraan ons in hierdie land skuldig is. In ons binnekamers en om ons braaivleisvure noem ons mekaar beledigende en afbrekende name soos dierename of name wat aandui dat mense van ander bevolkingsgroepe vuil en sleg en dom is. Ons verdra mekaar maar vind dit moeilik om mekaar te vergewe vir onreg mekaar aangedoen en min van ons stel ander se belange voor ons eie. Wat leer ons uit die Skrif oor God se wil hoe ons as volkere moet saamleef in ons land? Jakobus beklemtoon in Jak. 2:1-9 dat ons nie mense volgens hulle uiterlike moet beoordeel nie want dan doen ons sonde en veroordeel die wet van God ons as oortreders en in Jak. 4:11 dat ons nie van mekaar moet kwaad praat nie. Johannes sê in 1 Joh. 2:9-11 “As iemand beweer dat hy in die lig is, maar hy haat sy broer, is hy nog steeds in die duisternis. Wie sy broer liefhet, bly in die lig, en daar is niks wat hom laat struikel nie. Maar wie sy broer haat, is in die duisternis en lewe in die duisternis en weet nie waar hy gaan uitkom nie, omdat die duisternis hom blind gemaak het.” Volgens Mat 15:21-28 het Jesus by verskillende geleenthede hom uitgespreek teen rassistiese gewoontes van sy tyd. Matteus beskryf die gebeure toe Jesus genader is deur ’n Kanaänitiese vrou wat Jesus gesmeek het om haar dogter, wat deur die duiwel besete was, gesond te maak. Ten spyte van Jesus se aanvanklike reaksie dat Hy eintlik gekom het om mense van die Joodse volk tot God te bekeer, het sy bly glo dat haar kind van die duiwel verlos sal word en was Jesus se reaksie: “Mevrou, jou geloof is groot. Jou wens word vervul.” Nog ’n voorbeeld van die gaping wat bestaan het tussen Jode en ander bevolkingsgroepe word gevind in Jesus se ontmoeting met die Samaritaanse vrou by die fontein van Jakob en Hy haar vra vir ’n bietjie water om te drink. “Die Samaritaanse vrou sê toe vir Hom: “Hoe vra jy wat ’n Jood is, vir my, ’n Samaritaanse vrou, water om te drink?” Die Jode en die Samaritane gaan immers nie met mekaar om nie” (Joh.4:9). Jesus het twee dae by die Samaritane gebly en die evangelie aan hulle verkondig en baie van hulle in daardie dorp het tot geloof in Jesus gekom. Hy het deur Sy optrede getoon dat alle mense gelyk voor God is — ongeag hulle ras of geslag. Hierdie optrede van Jesus het ooreengekom met Petrus se woorde aan Kornelius en ’n groot groep mense wat kom hoor het van Petrus se ervaring toe hy in geesvervoering geraak het en hy gesien het ’n doek met al die wêreld se diere en voëls uit die hemel neergelaat is: “Julle weet dat ’n Jood nie met iemand van ’n ander volk mag omgaan of by Hom in die huis mag kom nie, maar God het vir my gewys dat ek geen mens as onheilig of onrein mag beskou nie” (Hand.10:28). In Gal. 3:28 verklaar Paulus in geen onduidelike taal dat alle mense één in Christus is: “Dit maak nie saak of iemand Jood of Griek, slaaf of vry, man of vrou is nie: in Christus Jesus is julle almal één.” In 1 Kor. 12:13 beskryf Paulus die eenheid van die Gees op soortgelyke wyse: “Omdat ons almal een liggaam geword het, is ons almal met die een Gees gedoop, of ons nou Jood of Griek is, slaaf of vry. Ons is almal van die een Gees deurdrenk.” In sy brief aan die Efesiërs (Efes. 2:14) wys Paulus daarop dat Jesus die middelmuur van skeiding tussen Jood en nie-Jood afgebreek het deur Sy liggaam te gee by die kruis en hulle tot ’n nuwe mensheid verenig het. Dit is duidelik uit die skrifgedeeltes hierbo dat harmonie tussen verskillende bevolkingsgroepe in ons land slegs bereik kan word, wanneer elke inwoner ander se belange bo syne/hare sal stel en almal vir mekaar lief sal hê omdat Jesus met Sy kruisdood almal gelyk gemaak het voor God.

bottom of page