Hou streng by ’n beleid van etiese beginsels in jou werk en besigheid
deur Luther Backer Bybelse voorskrif rakende etiek in die werk Mat. 7:12 lê die grondslag waaraan alle etiese standaarde in die werksituasie moet voldoen: “Alles wat julle wil hê dat die mense aan julle moet doen, moet julle ook aan hulle doen. Dit is tog waarop dit neerkom in die wet en die profete.” Elke bestuurder kan dan op grond hiervan ’n stel etiese beginsels of beleid vir sy/haar afdeling opstel en dit gebruik as riglyne in die werksituasie. Elke werknemer behoort ’n afskrif hiervan te ontvang en in hul werkplek teen die muur te vertoon met die volgende boodskap: Met God se hulp in elke situasie, sal ek my altyd daarvoor beywer om jou so te behandel as wat ek verwag jy my in dieselfde situasie sal behandel. Ek sal my gedurig beywer om meer te gee as wat die mense of die wet van my vereis ten opsigte van watter diens my onderneming en ek ook al by betrokke mag wees. (Aangehaal uit my boek Wees ’n vuurtoring in jou werk p.66.) Hoe om etiese besluite in besigheid en werk te neem Jerry White gee ’n aantal wenke in Honesty, Morality and Conscience. Navpress, 1978, pp.96-98 in hierdie verband. Behalwe vir gedrag wat duidelik onwettig, of ’n leuen, of bedrieglik is, moet ons dikwels moeilike besluite maak wat etiese implikasies het, Die volgende riglyne kan ons help om hierdie besluite korrek te maak: 1. Kry die feite. Jy moet nie steun op gevoelens nie, maar seker maak dat jy al die feite het aangaande die betrokke saak.As jy byvoorbeeld vermoed jy het te veel kostes vir reis- en verblyfuitgawes van die maatskappy ge-eis, moet jy die volgende vrae vra: Waarheen het jy gereis?Was die reis gemagtig? Wat was jou uitgawes ?Wat sê die wet oor inkomste deur eis van reis en verblyfkoste? Hoe lui die betrokke firma regulasies? Het jy enige bewyse om jou eis te staaf? Wat is aanvaarbare standaarde in julle beroep? 2. Raadpleeg die Bybel vir enige spesifieke voorskrifte. 3. Ondersoek jou persoonlike lewe. Lees jy gereeld die Bybel en bid jy gereeld? Indien nie, bestaan die gevaar dat jy geheel en al op jou eie oordeel staatmaak en meer van ander se advies afhanklik is. 4. Luister na jou gewete. Hoe meer jy jou gewete ignoreer, hoe stiller kan jou gewete word.Bring jou gewete so ver moontlik in lyn met wat die Skrif oor die saak voorskryf. 5. Bid. Neem die saak met al die feite in gebed na God. Die Skrif beloof: “As een van julle wysheid kortkom, moet hy dit van God bid, en Hy sal dit aan hom gee, want God gee aan almal sonder voorbehoud en sonder verwyt” (Jak. 1:5). God sal jou lei na die regte oplossing terwyl jy daaroor bid. 6. Vra raad. Soms is ons so diep betrokke by ’n saak dat ons perspektief verloor. ’n Betroubare Christenvriend kan dan van groot hulp wees, vernaamlik as hy self ook ervaring in soortgelyke vraagstukke gehad het, Jy mag dit dalk nodig sien om meer as een persoon te raadpleeg. Onthou, niemand se siening kan gewaarborg word nie en net jy bly verantwoordelik vir die neem van die besluit. Stigting van beweging om goeie waardes, etiek en skoon lewe te bevorder Steven Johnson, koördineerder van die “Unashamedly Ethical”–beweging, gestig deur Graham Power van die Power Groep van Maatskappye in Kaapstad in Oktober 2006, het in Transform your work life van Power en Vorster verwys na Titus 2:11-15 vir ’n uiteensetting deur Paulus van ons verantwoordelikheid ten opsigte van goeie waardes, etiese beginsels en ’n skoon lewe wat ons moet navolg en ook die Evangelie die wêreld moet indra sodat God ons wêreld kan transformeer: “Die genade van God wat verlossing bring, het immers aan alle mense verskyn. Dit voed ons op om die goddelose leefwyse en wêreldse begeerlikhede te laat vaar en met selfbeheersing, opregtheid en godsvrug in die teenswoordige wêreld te lewe, terwyl ons uitsien na die gelukkige dag wat ons verwag. Op daardie dag sal die heerlikheid van ons grote God en Verlosser, Jesus Christus, verskyn. Hy het Homself vir ons as offer gegee om ons van alle ongeregtigheid vry te maak en ons van sonde te reining, sodat ons sy eie volk kan wees wat ywerig is om die goeie te doen. Dit is die dinge waaroor jy moet praat. Gebruik jou volle gesag om aan te moedig en tereg te wys. Gee aan niemand aanleiding om op jou neer te sien nie.” Die AE-Beweging nooi mense uit om die navolging van goeie waardes, goeie etiese beginsels en ’n skoon lewe te onderskryf deur vorms te voltooi en onderteken. Ondertekenaars se name word opgeneem in ’n register op internet www.unashamedlyethical.com sodat hulle met mekaar in aanraking kan kom om in hul omgewing ’n gemeenskap van eties navolgbare aktiwiteite te stig en wat hulle in staat sel om met mekaar besigheid te doen. Enige klagtes van afwyking van etiese beginsels wat onderskryf is, sal deur ’n ombudsman ondersoek word. Die plan is om oor die hele wêreld sulke gemeenskappe te stig met die doel om hulle dissipelskap- en evangeliseringsdoelwitte te bereik. ’n Uitdaging word eerstens gestel aan gelowiges om deur middel van hulle plaaslike AE-gemeenskappe inligting te versprei en mekaar aanmoediging te gee rakende die lei van ’n ’n skoon en etiese lewe, Tweedens om verhoudings te bou met ongelowiges wat kan lei tot hul redding. Groot getalle individue, besighede en organisasies het reeds hierdie navolging van etiese standaarde en ’n skoon lewe onderskryf.