’n Goed geleefde lewe waarborg ’n ewige opbrengs
deur Stephan Joubert Toe iemand nou die dag opmerk: “Die lewe is kort,” antwoord iemand anders: “Nee man, die lewe is sport!” Hoe dit ook al sy, die lewe gaan gou verby. En die lewe is nie aldag maklik nie. Sommiges het ’n swaar kruis het om te dra. Ek praat van mense soos Sanmarie Matthee. Hierdie stil, kragtige instrument in die Heer se hand het pas van adres verander. Afbrekende siektes het haar liggaam oor die jare afgetakel. Tog het sy nooit haar sprankel verloor nie. Soos klokslag het sy elke maand met groot moeite lekkernye gebak vir behoeftige mense in ’n ouetehuis waar ekerk betrokke is. ’n Paar maande gelede het Sanmarie nogmaals in die intensiewe eenheid beland. My hart het gebreek toe haar man laat weet sy sal nie weer lekkernye kan maak vir die bejaardes wat sy reeds vir jare lank so bederf nie. Nou is hierdie kosbare kind van die Heer nie meer by ons nie. Haar stukkende liggaam is heelgemaak en haar trane is afgedroog. Watter genade dat ons ’n God dien wat nooit sy kinders alleen los nie; nie in hierdie lewe nie en ook nie in die volgende een nie! Hy dra hulle deur die lewe en Hy hou hulle hand styf vas as hulle die laaste keer hulle asem moet uitblaas. Johannes sien juis in Openbaring 6 en 7 hoedat al die Here se helde daar nuwe klere kry. Hierdie klere is spierwit gewas in die bloedrooi bloed van die Lam. Aan hierdie kant het ons elkeen ’n kruis om te dra. As ons hierdie roete enduit loop met ons oog vasgenael op Christus as die Begin en Voleinder van ons geloof (Hebr 12:1-2), dan wag daar ’n oorwinningskroon op ons teen oorstaptyd (2 Tim 4:7-8). ’n Goed geleefde lewe is om hierdie pad van Christus enduit te stap. Dis om dag vir dag agter Hom aan te kom. So ’n mooi lewe waarborg ’n ewige opbrengs — die lewe by God!