top of page
photo 1.JPG 2014-9-10-8:3:47

Waar kry jy jou opinies?

deur Stephan Joubert In Engels sê hulle sommige mense is “opinionated.” Hulle het sterk menings oor sake en spreek dit graag uit. Wel, ons almal het opinies van ons eie. Ons spreek dit dalk nie aldag luidkeels uit nie, maar ons het menings oor enigiets vanaf die politiek tot sport. Wat van ’n belangrike vraag: Hoe vorm jy jou opinies? FEIT: Navorsing toon aan dat meer as 80% mense se opinies gevorm word deur die media van die dag. Dit wat ons daagliks lees en kyk, bepaal ons denke. Die skokker is dat die meeste gelowiges se menings sterker beïnvloed word deur media en deur hul omgewings as deur die Woord van God. FEIT: ekerk se onlangse navorsing oor die Bybel onder Afrikaanssprekende gelowiges (gaan kyk op ons webblad — http://www.ekerk.org/#!verslae/cvb6) het bevind die Bybel is meestal ’n stiltetydboek wat slegs gelees word vir persoonlike stigting. Die Bybel word veels te min saamgevat na die sg. “regte lewe” en as gesaghebbende padkaart hier benut. FEIT: As die meeste van jou opinies gevorm word deur dit wat jy daagliks lees, kyk of luister, dan skuld jy jouself dringend ’n goeie nuwe opinie. Ek praat van God se Woord. Die Here se koersaanduidings in die Skrif moet jou denke primêr vorm en slyp. Sy Gees wil jou leer van nederigheid en self-opoffering, nie van arrogansie, woede en self-gelding, soos wat die media jou gedurig leer nie. Die Gees wil jou leer dat die doel van jou lewe nie is om te dink en op te tree soos die res nie. ’n Goed-geleefde lewe en ’n God-gerigte lewe is een waar ander ’n beter uitsig het op God danksy jou nabyheid. En waar die trane op ander se wange afgedroog word omdat jy vir hulle omgee. So ’n lewe neem vorm aan wanneer jou opinies en jou hart in die hande van die hemelse Pottebakker is.

bottom of page